Verlede maand
Polisie gevra om vrouepriester te verwyder
june dolley-major
Eerw. June Dolley-Major in haar tent buite Aartsbiskop Thabo Makgoba se woning.  ~ 

PLEKS van na haar luister is die polisie en ‘n sekuriteitsmaatskappy gestuur om haar te verwyder.

Eerw. June Dolley-Major vertel die aartsbiskop van die Anglikaanse kerk, Thabo Makgoba, het haar soos ‘n krimineel laat voel toe hy haar Woensdag diep in die nag voor sy huis wou laat verwyder het.

Sy het vroeër die week ‘n eetstaking buite Makgoba se huis, in die rykmansbuurt Bishopscourt, begin maar nog niks van hom gehoor nie. 

Dolley-Major sê sedert sy in 2002 ‘n mede-priester van verkragting aangekla het, het die kerk sy rug op haar gedraai.

Sy is werkloos en sonder ‘n dak oor haar kop gelaat. Sy kan ook nerens preek nie, oor Makgoba haar nie van die nodige papiere wil voorsien nie.

Hierdie is Dolley-Major se tweede eetstaking, om die aartsbiskop se aandag te kry.

Sy sê: “Ek voel bedrieg oor hy my soos ‘n krimineel hanteer. Toe die polisie my wou verwyder het ek vir hulle gesê ek is nie op sy perseel nie, en gaan nerens heen nie.

“My tent is op die sypaadjie buite die huis opgerig.” 

Volgens Dolley-Major is die eetstaking nie net vir geregtigheid in haar verkragtingsaak nie maar vir vroue regoor Suid-Afrika, wie daagliks verkrag en vermoor word.

“Ek kan nie verstaan hoe die aartsbiskop altyd uitpraat oor geweld teen vroue, maar hy praat nie van my nie. 

“Ek wil hê hy moet sien hoe ek as ‘n vrou moet suffer. Ek wil hê hy moet my in die oë kyk en sien wat hulle aan my gedoen het.” 

Son het byna ‘n week gelede ‘n navraag aan die kerk gestuur maar teen druktyd is daar nog nie op navrae reageer nie.

‘n Onderneming is wel Donderdagmiddag gegee om teen Donderdagaand ‘n verklaring uit te reik.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters