3 dae gelede
Polisie arresteer vier verdagtes
VONDS: Danksy flinke polisiewerk is dié vuurwapens gekry en vier verdagtes agter tralies.  ~ Foto Verskaf

COPS het vier verdagtes in die omgewing van Browns Farms gearresteer en op twee vuur­wapens beslag gelê.

Die verdagtes was vermoedelik twee weke gelede betrokke by twee sakerooftogte in die Ima­rike Centre in Browns Farms naby Philippi.

Volgens ’n polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, is die vier verdagtes gisteroggend omstreeks 07:00 in die Ramaphosa-plakkerskamp in hegtenis geneem.

“Cops het die een man gearresteer terwyl hy nog geslaap het en nog twee ander is later gearresteer.

“Die wapens wat gebruik is in die rooftog is by hulle gekry. Daar is beslag gelê op ’n 9 mm-Norinco en ’n Glock.”

Die verdagtes, almal tussen die ouderdom van 21 en 27, sal in die Athlone-landdroshof verskyn.

In ’n ander voorval gisteroggend is ’n stop-en-deursoek-operasie in Bonteboksingel, in Eastridge, Mitchells Plain, uitgevoer.

Gestop

“Die cops het ’n man gesien wat verdag gelyk het. Hy is deursoek en tik en unga is by hom gekry. Hy is gearresteer,” aldus Van Wyk.

In Site C, Khayelitsha, het ’n vrou die polisie gestop en gesê ’n man wat sy ken het ’n vuurwapen op haar gerig.

“Sy het die adres gegee waar die 30-jarige man is. Hy is gearresteer en ’n 9 mm-pistool is by hom gekry.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters