25 dae gelede
‘Polisie, army torture ons’
Kan nie Sien: Llewellyn Smith vertel die polisie en lede van die army het sy oog toegeslaan.  ~ Jonathan Lestrade

GANGSTERS van Wesbank beweer die cops en die weermag target hulle nadat een van hulle brasse ’n cop doodgeskiet het.

AO Hilton Joseph is laas maand doodgeskiet en sy kollega konst. Terrence Mostert in die nek gewond.

Llewellyn “Snowie” Smith en sy vriend Tony Barnies beweer hulle is laas week gemartel.

Hulle sê eers het die cops hulle vriend Taswill “Lang White” Daniels kort ná die cop-moord op die R300 in die been geskiet.

Volgens Smith was hy saam met Daniels toe ’n cop sy gun na bewering op Daniels leeggemaak het.

Hy sê hy glo die Here het ’n doel met sy lewe deur sy lewe te spaar.

Smith was ongedeerd en nie een bullet het hom getref nie.

Maar Smith sê aan Son hulle ander bra het reeds aan die polisie erken hy is die culprit wat die cops geskiet het.

Smith vertel: “Ons sal nooit op die polisie skiet nie.

“Ons is gangsters, maar nie sulke gangsters nie.

“Ons kom lank aan met die polisieman wat hy doodgeskiet het.

“Ons het ’n hegte band met hom gehad.

“Dis deur hom dat die polisie nou vir ons wil doodmaak.”

Volgens Smith het die polisie sowat twee weke gelede vir hulle in Wesbank gaan soek.

Hy sê terwyl hy hom weggesteek het, het hy gesien hoe die polisie met guns in hulle hande na hulle soek.

Hy vertel verder: “Ek kon daai aand nie eens by die huis slaap nie.

“Ek kon nie eens regop loop nie. Ek moes my heeltyd wegsteek.

“Die polisie het na ons gesoek en ek het my in ’n tuin weggesteek.

“Ek het gehoor hoe sê die een polisieman: ‘Ons skiet hulle vrek sodra ons hulle sien, maak nie saak of hulle stilstaan nie. Hulle skiet dan ons mense dood.’ ”

Smith sê dit was skaars ’n week later, toe slaan die polisie en die army op hulle huis toe.

Barnies vertel aan Son hy het ’n pyp voor in hulle jaart gesit en rook toe die army en polisie op hulle huis toegeslaan het.

Ruk

Hy vertel: “Die polisie het ’n torch in my gesig geskyn.

“Hy het my geroep en toe ek nader gaan, toe ruk hy my by die hek uit.

“Daarna kan ek nie onthou nie, want hulle het my net daar flou geslaan.

“Ek kan onthou dat hulle my na ’n dam geneem het waar hulle ons verder aangerand het.

“Ek weet nie eens hoe ek by die huis gekom het nie.”

Barnies en Daniels sê nadat hulle albei daghospitaal toe is, het hulle die saak by die polisie aangemeld.

Sontaga Seisa, ’n woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), sê hulle het op die oomblik geen rekord van die klagte nie.

Hy voeg by dalk gaan dit nog in ’n later stadium aangestuur word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters