Verlede maand
Plakplek bly ‘spoorloos’
Dooie lyn: Die sage oor die mense wat op die spoorlyne bly, sleep voort.  ~ Peter Abrahams

DIT is steeds onseker wat met die plakkers gaan gebeur wat op die sentrale treinlyn in Kaapstad woon.

Die probleem bestaan al maande lank en verskeie rolspelers is betrokke om die probleem om te los.

Duisende mense bly bo-op en langs die sentrale spoorlyn, wat verby Langa, Bonteheuwel en ander buurte loop.

Prasa se CEO, Zolani Matthews, het vroeër dié maand gesê onderhandelinge is aan die gang om die mense van die lyne af te kry sodat die treine weer een of ander tyd kan loop.

Prasa het ’n uitsettingsbevel gekry om die mense te verwyder en die saak is na verneem word in die Wes-Kaapse hooggeregshof geskik.

Verskuif

Son het ’n woordvoerder van Prasa gevra oor die jongste verloop van sake, maar kry nog nie antwoord nie.

Son het wel verneem dat amptenare van die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings Dinsdag na ’n plek gaan kyk het waarna die onwettige intrekkers kan verskuif, maar daar word nie genoem waar dit was nie.

Inwoners wat langs en op die sentrale lyn bly, het laas gehoor dat hulle Stellenbosch toe moet trek.

Malusi Booi, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings van die Stad Kaapstad, sê dat die Stad konstruktiewe voorstelle ingedien het om met die probleem te help.

“Die Stad het Prasa gevra om vroeg op te tree om die probleem te verhoed.

“Die nasionale departement van openbare werke en infrastruktuur het moontlike grond identifiseer. Die Housing Development Agency doen ook studies oor waar die beste sal wees.”

Maar Booi sê die Stad Kaapstad is nie die leier in die saak nie.

Ntomboxolo Makoba-Somdaka, woordvoerder van die Wes-Kaap departemente van vervoer en openbare werke, sê hulle werk nie saam met Prasa en die Stad Kaapstad om die plakkers te ontruim nie.

“Ons werk wel saam met die Housing Development Agency om mense te hervestig.

“Die departement het grond uitgewys waarheen mense verskuif kan word.”

Dan Plato, burgemeester van die Stad Kaapstad, het gesê dat hy ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf het om met die probleme van treine in die Wes-Kaap in te gryp.

“Die nasionale tesourie het gesê dit gaan te duur wees om ’n studie te doen oor hoe Kaapstad die plaaslike spoorweë kan bestuur.

Beleggers

“Dis duidelik dat wanbestuur jare lank plaasgevind het en dít val onder die nasionale regering,” sê Plato.

Die mayor voeg by die president moet doen wat hy kan om Kaapstad se inwoners te help.

“Ons het plek vir buitelandse beleggers vir die moontlikheid om besigheid in Kaapstad te doen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters