Verlede maand
Plain kry tuin in ’n boks op Wêreldvoedseldag
Gee terug: Die komediant Marc Lottering ondersteun Joanie Fredericks waar hulle op Wêreldvoedseldag met die gemeenskap gesels oor die werk wat haar organisasie doen om mense te help om selfonderhoudend te word. Foto: Jonathan lestrade  ~ 

“AS ’N gemeenskap moet ons sélf organise as ons ’n verandering wil sien.”

Só vertel Joanie Fredericks, ’n aktivis en gemeenskapsleier van Mitchells Plain.

Fredericks het die gemeenskap Vrydag, op Wêreldvoedseldag, toegespreek.

Sy sê dis moontlik vir mense om selfonderhoudend te word en hul eie groente te kweek sodat hulle van tuin na tafel kan leef. Sy voeg by hoe hartseer dit is om te sien hoe ongemaklik mense lyk as hulle in die ry staan vir kos.

“Dit is mense wat gewerk het en hul werk verloor het as gevolg van die pandemie.

“Hulle word nou geforce om in ’n ry te staan. Dit trap diep dinge omdat hulle nie vir hul gesin kan sorg nie,” sê sy.

Fredericks sê dít is waarom dit vir haar so belangrik is om families te help om selfonderhoudend te word.

Groei

As deel van Wêreldvoedseldag het Fredericks met ’n organisasie saamgespan om vir inwoners in die gebied ’n garden in a box te gee, wat hulle moet plant en versorg.

“In die boks is daar tien verskillende groentes.

“Die doel is dat hulle daardie crops groei en dit in hul eie huis gebruik.

“Dit sal hulle ook die geleentheid gee om dit met hul bure te deel of die groente aan mekaar te verkoop en sodoende ’n bietjie geld in die huishouding te bring.

“Die plante moet net geplant en mooi na gekyk word,” sê sy.

Fredericks sê sy hoop dat dié wat die groente ontvang het, daarvan gebruik sal maak, maar ook dat hulle dit met ander sal deel wat ook iets op die tafel nodig het.

“Ons moet mekaar bystaan en na onsself kyk en vir ons kinders wys dat ons ons eie gemeenskap kan opbou.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters