24 dae gelede
Pinksterkind los ’n leemte
Unise Koopman  ~ Foto Verskaf

HAAR skielike dood los ’n leemte en baie trane.

Die heengaan Saterdag van Unise Koopman (17), ’n gr. 11-leerder aan die Hoërskool Scottsdene, los ’n oop wond vir haar familie, haar kerk se mense en almal by die skool wat baie lief was vir haar.

Unise het op 13-jarige ouderdom tot bekering gekom en sedertdien voluit vir die Here gelewe.

“Daarom het ek vrede in my hart en ek weet die Here het haar kom haal.”

Só vertel Antoinette Koopman (43) oor haar dogter se ontydige dood.

Unise, wat ook bekend was as Poppie, is Saterdagaand omstreeks 21:00 op pad hospitaal toe oorlede.

“Sy het by my suster in Wallacedene gewoon, maar Saterdagoggend was ons twee saam by ’n begrafnis.

“Sy was nie siek nie, maar sy’t gesê sy wonder of sy die Sondag in die kerk sal kan sing, want dit voel asof sy verkoue het.”

Koopman sê toe sy en haar dogter mekaar die Saterdagmiddag groet, het sy nie kon raai dit sou die laaste wees nie.

Poppie het Saterdagaand saam met haar tannie-hulle om die vuur gesit toe sy net omgeval het.

Haar ma vertel verder: “Sy het toe nog vir hulle vertel sy voel asof sy op ’n berg staan en begin val en val en val ... toe val sy om. Hulle het gedink sy grap, maar toe hulle na haar gesig kyk, het sy snaaks gelyk en hulle het gesien iets is fout.”

Unise is by haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.

“Toe ek daar aankom, was my suster by haar. My suster het met haar hand oor Poppie se hart gevryf, so asof sy haar hart weer aan die lewe wou vryf.”

ALTYD VRIENDELIK: Unise Koopman glimlaggend in haar skooldrag soos almal haar sal onthou. Foto Verskaf

Antoinette sê die dokters vermoed Poppie het moontlik Covid-19 gehad.

“Hulle het my gevra of ek ’n nadoodse ondersoek wil laat doen, maar ek het vrede. Ek weet God het haar kom haal. Sy is veilig by Jesus, want sy’t vir hom gelewe.”

Leier

Die gesin gaan hulle laat toets en vir eers self-isoleer.

Die hoof van die Hoërskool Scottsdene, Peter Links, sê Unise was een van daai kinders wat jy in jou skool wou hê.

“Sy was ’n sterk leier, ’n liefdevolle kind en ’n hardwerkende leerder.”

Unise, ’n Pinksterkind, was ook lid van die skool se koor. Sy het op die beheerliggaam en die VRL gedien en was ook ’n prefek by die skool.

“Sy het haar gewig agter elke organisasie gegooi. Sy was rêrig ’n leier van formaat. Ek kon sien wat sy eendag vir haar gemeenskap kon beteken. Die samelewing is beroof van ’n opregte leier.”

Hy sê Unise se klasmaats en al die gr. 11’s is reeds ingelig oor haar dood.

“Wanneer die tyd reg is, sal ons ’n diens hou om haar te vereer.”

Angelica Eland, ’n vriendin van Unise, sê sy het gesing vir die Here.

“Ons ken haar die afgelope vier jaar. Sy het verskriklik baie vir ons beteken en was soos my eie kind.


Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters