2 maande gelede
Peters ‘sê vir nurse dis fit’
Ameerudien Peters  ~ 

DIE moordbeskuldigde Ameerudien Peters het aan sy buurvrou en die nurse gesê klein Jeremiah Ruiters het ’n fit gehad en sy eie tong gebyt.

Só het Margaret Japie, die buurvrou, gister in die hof getuig.

Jeremiah (18 maande) se ma, Abigail Ruiters, sit saam met Peters in die beskuldigdebank.

Japie het saam met haar familie in ’n wendyhuis in Abigail se ma se jaart gewoon.

Abigail het ook daar in haar eie wendyhuis saam met Peters en haar drie kinders gebly.

Jeremiah is op 12 Junie 2017 in Factreton se kliniek dood verklaar nadat Peters met hom daar opgedaag het.

Benewens die moord, staan die couple ook tereg op klagte van die mishandeling van Jeremiah se twee ouer sussies.

Japie het getuig sy was reeds met haar eie kind by die kliniek toe Peters daar opdaag met Jeremiah in sy arms.

“Ek het opgestaan en hom gevra wat verkeerd is. Ek het die kind by hom gevat en hy het die suster gaan roep.

“Toe hy terugkom, het ek die kind vir hom gegee en ons is saam in ’n kamer in met ’n nurse,” het sy getuig.

Japie het getuig toe sy die kind in haar arms vashou, het sy gevoel hy haal nie meer asem nie.

“Ek was in die kamer toe hy vir die nurse sê die kind het ’n fit gehad en het sy eie tong gebyt.

“Die nurse het nog ’n suster gaan roep en hulle het ’n masjientjie in die kamer gebring om die kind mee by te bring.

“Ek het die kind vasgehou toe hulle met hom besig was,” het sy in die hof vertel.

Japie het ook getuig dat Peters in die kamer paniekerig voorgekom het.

“Hy was baie geworry oor die kind,” lui Japie se getuienis. Sy kon nie verder getuig oor sy houding in die kamer nie omdat sy huis toe moes gaan om ’n nommer vir die kind se ma te kry oor die nurse haar in die hande wou kry.

“Ek onthou, ná die tyd het ek met Abigail buite gestaan. Ek, sy en Ameerudien het buite gestaan en rook en gesels,” het sy getuig.

Japie het nie uitgewei waaroor hulle gesels het nie.

Die hofsaak is tot môre uitgestel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters