Verlede maand
Peters praat sy bek verby
Mr vaspraat: Ameerudien Peters se oggend- en aandpraatjies stem nie ooreen nie.  ~ Peter Abrahams

DIE moordbeskuldigde Ameerudien Peters ontken hy het Kiana Ruiters (8) uit die skool gehou sodat sy na haar bababoetie, Jeremiah, moes omsien en die huis moes skoonmaak.

Peters het gister in die Kaapse hooggeregshof volgehou hy het die huis skoongemaak en na Jeremiah gekyk terwyl die kleintjies se ma by die werk was.

Peters en Abigail Ruiters, die kinders se ma, staan albei tereg vir die moord op die 17 maande oue Jeremiah en die mishandeling van sy ouer sussies, Kiana en Zara.

Jeremiah is op 12 Junie 2017 in die Factreton Kliniek in Kensington dood verklaar nadat Peters met hom daar opgedaag het.

Die staatsaanklaer in die saak, adv. Maria Marshall, het dit gister aan Peters gestel dat Kiana in haar getuienis gesê het Peters was lui, het heeldag geslaap en sy het uit die skool gebly om skoon te maak.

“Nee, dit is nie. Ek het selde in die dag geslaap, al het ek laat by die huis gekom van my vriende af. Ek sou nie in die dag slaap nie,” het Peters getuig.

Volgens hom het Kiana net drie keer uit die skool gebly toe hy haar hospitaal toe moes neem.

Maar onder kruisondervraging het hy getuig hy het haar net een keer hospitaal toe geneem.

Peters het hom vasgepraat toe hy gevra is of hy haar al drie keer hospitaal toe geneem het.

“Ek het haar een keer geneem. Die ander twee kere het Abigail haar geneem,” het hy getuig.

Marshall het dit toe aan hom gestel dat hy dit opmaak dat hy haar hospitaal toe geneem het.

Vriende

“Nee, dit is nie,” het Peters geantwoord.

Hy het verder getuig Kiana is beïnvloed om dinge te sê omdat sy ’n kind is wat na haar ouers geluister het.

Hy het bygevoeg wat aan haar gesê word, sou sy herhaal.

Dit het gekom nadat Marshall dit aan hom gestel het dat hy nie vir haar skool toe geneem het soos hy getuig het nie. Ook dat hy nie vir haar lunch ingepak het nie en dat hy nice met haar was, maar nie met Jeremiah en Zara nie.

Peters is ook kruis­ondervra oor sy vriende.

Een van hulle is ene Shakeel van Maitland, waar Peters Jeremiah en Zara soms gelos het.

Marshall het hom oor die vriend se adres uitgevra.

“Hy woon in Rottekamp, ’n informele nedersetting agter Maitland waar daar wendys is en so ’n stuk huis op ’n veld,” het hy getuig.

Marshall het Peters toe gevra wanneer laas hy met dié vriend gepraat het.

“Die laaste toe ek buite was. Ek het by sy neef in die tronk gehoor dat hy nie meer in Maitland woon nie, maar nou in Bonteheuwel is, maar ek weet nie waar nie,” het Peters getuig.

Die saak sal vandag voortgaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters