DIE Mitchells Plain-polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord nadat twee mans gisteroggend geskiet is.
Dié voorval het omstreeks 06:00 in Blockhouse-straat, Tafelsig, gebeur.
Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, is ’n 33-jarige man doodgeskiet en ’n 32-jarige is gewond.
Son verneem een slagoffer is ’n lid van die Dixi Boys-bende en die ander een was ’n onskuldige omstander.
Inligting
Van Wyk sê: “Die omstandighede rondom die skietery word ondersoek. Die slagoffer wat gewond is, is na ’n nabye hospitaal vir behandeling geneem. Albei mans is in die kop geskiet.”
Hy sê die moontlikheid dat die voorval bendeverwant is, sal ondersoek word.
Van Wyk vra enige een met inligting oor die skietvoorval om sers. Sibongile Mantyi, die betrokke ondersoekbeampte, by 082 777 8076 te bel of Crime Stop by 08600 10 111.