Verlede maand
Pers stroop: Opsigter vas
SOEK: Die polisie het op die opsigter toegeslaan.  ~ Foto Verskaf

NOG ’n man is die afgelope naweek in Grassy Park gearresteer nadat hy in die besit van hoesstroop gevind is wat leerders as ’n drug gebruik.

Die 62-jarige opsigter van die Hoërskool Grassy Park is in sy huis in Perth-straat, Grassy Park, gevang.

Twee jaar gelede het Son oor die pers hoesmiddel berig waarvan kinders op so ’n high was dat hulle hallusinasies gekry het.

Destyds is ’n vrou (49), haar seun (23) en haar neef (22) in Grassy Park gearresteer nadat 87 bottels BronCleer-hoesmiddel, 57 bankies dagga en ’n fake vuurwapen in hulle besit gevind is.

Die drie het na bewering uit hulle huis die stroop aan skoolkinders verkoop.

In die jongste voorval het die opsigter 24 bokse Stil­pane-hoesmiddel in ’n gat in sy jaart gebêre, maar te danke aan ’n tip-off het die polisie dit gekry.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die arrestasie bevestig. Hy sê die man is ook vir die besit van dagga en die besit van gesteelde goedere (’n huis wat nie aan hom behoort nie) gearresteer.

’n Apteek-assistent wat verskillende apteke op die Kaapse Vlakte besoek, verduidelik dat dit nie moeilik is om ’n bottel van dié medisyne in die hande te kry nie, maar wel wanneer dit by groot getalle kom.

“Groot maatskappye vra gewoonlik vir ’n voorskrif, maar as jy na ’n apteek gaan, kan jy net daarvoor vra.”

Die assistent verduidelik dat die man heel moontlik die bokse vanaf ’n private apteek gekry het.

“Daar is ’n klomp private apteke in Grassy Park.

“Die private apteke moet gewoonlik hulle eie rent betaal, asook hulle werkers. So, wanneer hulle sales maak, betaal jy kontant en hulle vat gewoonlik nie besonderhede nie.

“As dit so is, weet ek nie hoekom hulle soveel aan hom gegee het nie, want dit breek die apteekreëls, al is jy privaat.”

Sy sê hulle hoor ook baie stories van kinders – sommige nog in laerskool – wat die mengsel drink.

“Die polisie moet ’n bietjie na die source kyk. Vra waar hulle die medisyne kry, want dit raak nou erg.”

Die man sal vandag in die Wynberg Landdroshof verskyn. Van Wyk sê borgtog sal teengestaan word sodat die polisie kan vasstel of hy die medisyne versprei.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters