Verlede maand
Perdekarre sorg vir geld­
Hardwerkend: Eienaars van perdekarretjies is nét so erg deur die pandemie geraak.  ~ Verskaf

ELKE liewe mens is deur die Covid-19-pandemie geraak en die mense wat hul inkomste met perdekarretjies maak, sukkel nét so.

’n Studie is verlede jaar deur World Horse Welfare gedoen.

Dit het die mense op die Kaapse Vlakte ingesluit wat daagliks hul perdekarre gebruik om geld te verdien.

In Desember en November 2020 het World Horse Welfare in samewerking met die Cart Horse Protection Association ’n studie gedoen oor die impak van Covid-19 op die perdekarretjiemense.

Die studie is wêreldwyd gedoen. Dit sluit lande in Asië, Latyns-Amerika en Afrika in.

Wêreldwyd is daar na raming 100 miljoen tot 112 miljoen perdekarretjie-mense wat só geld verdien.

Op die Kaapse Vlakte is altesaam 43 eienaars en bestuurders van perdekarretjies ondervra.

Elkeen van hulle onderhou gemiddeld ses familielede.

Die families bestaan gemiddeld uit twee volwassenes en twee kinders.

Byna die helfte van die mense gebruik hul karretjies om afvalmetaal te vervoer om ’n lewe te maak. ’n Derde van die mense vervoer tuinafval.

As gevolg van die pandemie wou mense nie van dié perdekarretjies gebruik maak om hul afval mee te vervoer nie.

Afhanklik

Omdat die perdekarretjie-mense nie kon werk nie, was hulle dus ook afhanklik van ander mense en die regering se geld.

In Suid-Afrika is 86% van dié mense 100% afhanklik van hulle perde vir ’n inkomste.

Van dié mense het 21% gesê dat hulle steeds beter daaraan toe is as ander mense in die gemeenskap wat nie perde het nie.

World Horse Welfare het gehelp dat perde wêreldwyd gevoer word.

Die Cart Horse Protection Association het as gevolg van die pandemie R130 425 spandeer om 1 739 bale hooi aan 99 eienaars te gee wat 364 perde moes voer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters