2 maande gelede
Pasiënt gooi 'n Tom Cruise
vermis: Niemand weet waar Raymond Swarts is nie.FOTO verskaf  ~ 

’N MA worry dat haar vermiste verstandelik gestremde klong dalk iewers dood lê.

Raymond Swarts (28) van Franschhoek het na bewering ’n venster in die manstoilet op die tweede vloer van die Tygerberg-hospitaal gebreek en daar uitgespring.

Nadat hy glo op sy voete beland het, het hy gemaak dat hy wegkom.

Hy is nog nie weer gesien nie.

Francisca, Raymond se suster, sê hy het volgens wat sy gehoor het, net ná die landslag begin hardloop. Niemand weet in watter rigting nie.

“Ons het g’n idee waar hy nou is nie en is seker hy weet ook nie omdat hy nie die gebied ken nie.”

FAMILIE: Francisca en Rosie Swarts, Raymond se bekommerde suster en ma, hoop hy word gou gevind.

Francisca sê verder haar broer het net ’n T-shirt, kortbroekie en hospitaal gown aangehad toe hy weggehol het.

“Ek is seker iemand daar buite het hom gesien.

“Ons vra net dat iemand ons help om my broer op te spoor.”

Volgens Raymond se ma, Rosie, is haar seun van die Paarl-hospitaal oorgeplaas vir verdere behandeling nadat hy in ’n ongeluk be­trokke was.

“Hy is Vrydag deur ’n kar gestamp en het sy kop baie hard gekap.

“Die ambulans het hom opgelaai en Paarl-hospitaal toe geneem.

“Teen Saterdagmiddag het die hospitaalpersoneel laat weet hy word na Tygerberg oorgeplaas.”

Rosie sê verder Raymond het omstreeks 14:00 by die hospitaal opgedaag. Ure later­ het hy na bewering by die venster uitgespring.

“Volgens die personeel het hy aggressief geraak, badkamer toe gegaan, die venster gebreek en uitgespring,” vertel sy.

Gepanic

“Ons het geen idee waarom hy dit sou doen nie, maar hy het ’n probleem met sy verstand en dalk het hy nie gemaklik gevoel oor waar hy is nie.

“Hy het moontlik gepanic en wou uitkom,” sê Rosie.

SIEKEHUIS: Raymond Swarts het glo by die venster van ’n toilet op die tweede verdieping van die Tygerberg-hospitaal uitgespring en weggehol. Foto’s: MELINDA STUURMAN

Raymond se ma en suster sê dis die eerste keer dat hy vermis raak. Hulle worry oor sy gesondheid.

“Soos enige moeder is ek bekommerd oor my kind. Ek is net bang hy lê iewers dood of iets. Ons wil net graag hê hy moet veilig terugkeer,” sê sy.

Alaric Jacobs, die hoofwoordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, het bevestig hulle weet van die voorval.

Volgens hom het die hospitaal die familie en die polisie Saterdagaand onmiddellik ná die voorval ingelig.

Die polisie gaan ondersoek instel.

Jacobs sê die departement sal sy volle same­werking gee.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters