6 dae gelede
Party sê dienste is 1ste prioriteit
VOL PLANNE: Dirk Jantjies sê die dienste wat hulle aan die gemeenskappe wil lewer, is nie net leë beloftes nie. FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE Diensleweringsparty is nog nie so bekend soos die ander politieke partye in die land nie.

Sy leier, Dirk Jantjies, is egter seker een van die langs dienende raadslede in die land. Hy is nou al sedert 1995 ’n councillor.

Son op Sondag het dié week ’n onderhoud met hom gevoer.

Eldridge Jason (EJ): Hoe lank bestaan die Diens­leweringsparty al en is julle net in ’n spesifieke area gefokus?

Dirk Jantjies (DJ): Al is die Diensleweringsparty aan die suidpunt van Afrika begin met sy hooffokus op die Overberg-area, het dit baie vinnig deur die Wes-Kaap gegroei.

Ons is ’n party wat eerstehandse ervaring het van die mense wat ons dien. Ons is daarop gefokus om die lewe van almal in die Wes-Kaap te verbeter – van die vissersgemeenskappe van Struisbaai, Hawston, Kleinmond tot aan die Weskus, die Swartland, die Kaapse Wynland-area, wat dorpe soos Stellenbosch, die Paarl, Franschhoek en Wellington insluit, die Breëvallei en die Suid-Kaap.

EJ: Soos ek verstaan, is jy een van die langs dienende raadslede in die land en is sedert 1995 ’n raadslid. Wat is die resep vir so ’n lang loopbaan?

DJ: As jy die oorgangsraad in ag neem, strek my betrokkenheid as raadslid vanaf 1993.

My betrokkenheid in die gemeenskap sedert ek die mense van Kaap Agulhas en die Overberg-streek dien, strek eintlik nou al oor meer as 45 jaar.

Jy moet lief wees vir jou gemeenskap en moet tussen hulle woon sodat jy hulle omstandighede kan verstaan.

EJ: Hoekom behoort mense vir julle party te stem?

DJ: Soos die naam van ons party sê, was dienslewering nog altyd ons eerste prioriteit.

Enige geregistreerde kieser in die Wes-Kaap wat nie vir die Diens­leweringsparty gaan stem nie, is nie ernstig oor bendegeweld, geweld, die verkragting van vroue en kinders, dwelmmisbruik en misdaad nie.

EJ: Is dié motivering nie net beloftes om stemme te werf nie?

DJ: Beslis nie. As u gaan kyk na ons track record oor die jare, spreek dit vanself. Ons is nie soos die ander partye en politikusse wat net voor verkiesings opspring om weer net te verdwyn nie.

Ons is alombekend in die Overberg en hierdie verkiesing gee ons die geleentheid om ons basis verder oor die hele Wes-Kaap uit te brei.

Ons bied ’n oplossing en uitweg aan dié wat dit die nodigste het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters