13 dae gelede
Pangarker ‘is gevaarlik’
Elsabe von Houten  ~ Jonathan Lestrade

AS DAAR iemand is wat Moyhdian Pangarker ken, is dit sy meisie.

Elsabe von Houten beskryf hom gister só aan Son: “Gevaarlik.”

Von Houten vertel dat sy net ’n paar dae voor Tazne van Wyk (8) se verdwyning nog saam met Pangarker was.

Die plan was om weer pad te vat die einste Vrydag toe Tazne verdwyn het.

Von Houten wou nie.

Von Houten is ook die mamma van een van Pangarker se kinders.

Dis dieselfde kind wat hy 15 jaar gelede ook ontvoer het. Von Houten sê sy onthou die dag nog soos gister.

“Hy’t die kind uit my arms gegryp en na die Malawi-kamp gehardloop. Ek het hom gelukkig daar veilig gekry. So, as ek een ding verstaan, is dit die worry van Tazne se ma.”

Von Houten sê sy het op 28 Januarie saam met Pangarker van Bellville na Worce­ster en so ver as Bloemfontein gehike.

“Daai hele week het ons van trok tot trok gereis. Ek onthou nog hoe ons die derde dag in Beaufort-Wes saam by ’n lekker huisie oorgeslaap het.

Daar het hy twee biere gedrink en ’n groenpyp gerook.

“Ek het bang geraak, want hy was aggressief. Hy het toe met sy gladde mond ’n way gemaak dat ons terug Kaap toe moet gaan. Dit was ’n week voor Tazne verdwyn het.”

Laaste

Von Houten sê Pangarker het aan haar gesê dat hy weer die Maandag Caledon toe gaan.

“Die laaste dag wat ek van hom gehoor het, was die Woensdag (5 Februarie) toe hy sê hy gaan nog en ek vir hom sê ek gaan nie saam nie, want ek gaan agter my kind kyk.

“Hy kan enige plek wees. Hy ken soveel plekke en ken ook baie mense.”

Moyhdian Pangarker

Von Houten het ’n hartseer-versoek aan Pangarker gerig om Tazne tog terug te bring.

“Bring net die kind terug! Ek is hartseer, want dit kon nou my kind gewees het na wie ons soek.

“Daai man is baie gevaarlik. Ek bedoel dit. As hy sy eie kind kon ontvoer en sy eie baba kon doodmaak ...”

Tazne van Wyk is glo laaste saam met Pangarker gesien nadat sy laas Vrydag spoorloos van ’n huiswinkel oorkant haar huis in Elsies­rivier verdwyn het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters