14 dae gelede
Pak julle goed en waai – boer
menseregte: Willem Carstens (links) word bygestaan deur Rodney Khan.  ~ 

DIE boer van die plaas Droë Heuwel in Philippi het weer van sy werkers warm onder die kraag nadat hy gedreig het om hulle uit te smyt.

Son het verlede jaar berig oor die werkers wat in haglike omstandighede bly.

’n Gemeenskapswerker, Rodney Khan, het Son vandeesweek gekontak nadat die boer, Edgar Meyer, met ’n trekker opgedaag het.

Volgens Khan is Willem Carstens, wat al 23 jaar op die plaas werk, en sy gesin aangesê om al hulle goed uit die huis te verwyder en op die trekker te laai.

Carstens se kinders was volgens hulle pa so getraumatiseer dat hulle gaan wegkruip het omdat hulle bang is vir die boer. Die kinders is tussen 7 en 13 jaar oud.

Die boer het later weer opgedaag terwyl Son daar was en geëis dat die joernalis sy plaas moet verlaat.

Toe hy egter sien hy word afgeneem, is hy vinnig daar weg en het later met die polisie opgedaag. Khan het ’n verslag van die Menseregtekommissie aan die boer gewys wat lui hy mag niemand evict nie.

Meyer het gesê hy het “niks met daai papiere te doen nie. Dit is my plaas en ek sal doen soos ek goeddink”.

Afval

Oor sy beloftes om huise te bou het Meyer gesê hy is besig om dit te doen, maar daar was geen teken van enige bouwerk nie. Die stank van menslike afval vanuit die long drops, wat as toilette dien, het swaar in die lug gehang. Daar het oral menslike afval gelê.

Die polisie het die boer gevra om die trekker te verwyder, die Carstens af te los en saam met hulle na die polisiestasie te gaan.

’n Cop het aan die boer gesê hy moet eers alternatiewe akkommodasie vir die mense kry en sy uitsettings op ’n wettige manier doen.

Elton Jansen, wyksraadslid, sê hy weet van die situasie, maar dit is private grond waarop die Stad nie sommer net dienste kan lewer nie.

“Intussen moet ek toesien dat geen menseregte oortree word nie, soos uiteengesit in die verslag deur die Menseregtekommissie.

“Ons al onder geen omstandighede toelaat dat daar onwettige uitsettings plaasvind nie,” voeg raadslid Jansen by.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters