14 dae gelede
Paartjie op straat geskiet
WREED: Die man is in die voorval in sy bors gewond.  ~ Foto Verskaf

BENDEGEWELD het weer in die Strand opgevlam toe ’n jong man en sy girlfriend gisteroggend geskiet is.

Volgens die Strand-polisie het die voorval om 08:57 op die hoek van Gustrouwlaan en Broadway Boulevard plaasgevind.

Die twee wat in die skietvoorval gewond is, het geloop toe ’n onbekende man op hulle losbrand.

Die vrou is in haar arm gewond en die man in sy bors.

Hul aanvaller het te voet in die rigting van die woonbuurt Casablanca van die toneel af weggevlug.

Albei slagoffers is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem en hul toestand is ernstig.

Oorneem

Inwoners van die woongebiede Gustrouw en Broadlands Park sê daar was nou vir ’n lang tyd nie bendegeweld in hierdie areas nie.

’n Vrou wat anoniem wil bly, sê sy hoop nie die skollies wil nou weer die plek oorneem nie.

Sy sê die vakansie lê nog voor en sy hoop dat daar meer patrollies in hul woongebiede sal wees.

Die polisie ondersoek nou twee klagte van poging tot moord. Hulle het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hulle te help in hierdie ondersoek.

Mense met enige inligting oor die voorval kan vir lt.kol. Franklin Plaatjies by 082 469 3359 bel.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters