9 dae gelede
Paarlse duo mik na Texas
OPGEWONDE: Roderick Fredericks en Nabihl Liebenberg sien uit na hul trip Amerika toe.  ~ Jonathan Lestrade

TWEE passievolle jong basketball-spelers van die Paarl mik hoog en sal binnekort hul tuisdorp vir Amerika verruil.

Roderick Fredericks (26) en Nabihl Liebenberg (21) het albei ’n kontrak vir vier jaar geteken om vir die basketball-span Purple Jags in Victoria, Texas, te speel.

Vir albei is dit ’n droom wat waar geword het.

Fredericks het jare gelede ’n belofte aan sy niggie Herma­nise Fredericks opgedra nadat sy in 2006 oorlede is.

“Sy was die sportvrou in ons familie en het ook drome gehad om haar passie verder te vat. Ek het toe besluit ek maak ’n belofte aan haar en myself om my droom te volg en vandag is ek glad nie spyt nie,” sê Fredericks.

Hy vertel hy’t nou wel nie verwag hy sou so versot raak op basketball nie.

“Ek sien nou myself vir ’n baie lang tyd dít doen, maar ek weet ook ek kan dit nie vir ewig doen nie.

“Dis waarom ek ook sal studeer terwyl ek basketball speel.

“Ek gaan sportbestuur studeer. Dis iets wat ek dan kan gebruik wanneer ek nie meer op die basketball-baan kan wees nie.”

Fredericks sê ál die harde werk, die ure wat hy moes opoffer en die paarties wat hy moes misloop is alles die moeite werd.

“Sport hou ’n mens weg van al die verkeerde dinge, soos gangsterism en dwelms – en kyk waar is ek vandag.

“Dis waarom ek en Nabihl dit so ernstig opvat. Ons weet van waar ons kom, wat ons deurgemaak het en waarnatoe ons gaan,” sê hy.

Motiveer

Fredericks voeg by hy wil graag terugkom en hopelik kan hy ander inspireer om hul passie na te volg.

“Ek wil sportklinieke begin, asook akademiese klinieke op die been begin kry. Ek sal begin met ons jong mense en vir hulle wys hulle kan meer bereik,” sê hy.

Hy vertel sy familie se ondersteuning is iets wat hom ook dra en motiveer.

“Sonder my ouers sou ek seker nou nog die verkeerde vriende gehad het. Ek is baie dankbaar en kan nie genoeg dankie sê aan hulle nie,” sê hy.

Liebenberg sê Kobe Bryant is sy grootse inspirasie vanweë sy leierskap.

“Ek het geweet ek wil ook ’n leier wees. Ek het op 10 jaar oud begin speel en het nie opgehou nie.

Verwag

“Toe ek onlangs ’n Basketball National League-kontrak hier in Suid-Afrika kry en ek word betaal daarvoor, toe besef ek ek kan dit verder vat,” sê hy.

Liebenberg vertel toe hy die kontrak kry om Amerika toe te gaan, het hy dit eintlik verwag.

“Vir my was dit net ’n matter of time omdat ek nog baie jonk en hardwerkend is. Ek is ’n baie gelowige mens en vir my was dit ’n geval van ek moet daar kom en ek sal daar kom,” sê hy.

Hy voeg by sonder sy familie se ondersteuning sou die geleentheid moeilik gewees het.

“Ek sê nie onmoontlik nie, maar ek het die drive van my ma gekry. Sy is ’n enkelouer en moes ál die tyd uit haar pad uit gaan en vir my is dit belangrik om my deel te doen om verder te gaan,” verduidelik hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters