11 dae gelede
Pa vrees vir sy klong se lewe
Kopseer: Die Forest Heights Hoërskool is na bewering besmet met gangsters.  ~ Peter Abrahams

’N PA vrees vir sy 15-jarige seun se lewe nadat die klonk by die skool lelik deur vermeende bende­lede van die Horribles aangerand is.

Deon Waldeck (47) van Forest Village in Eersterivier sê sy seun is die hóéveelste slagoffer wat deur dié bende aangeval word.

Volgens Waldeck is sy seun vier keer met ’n bottelkop op sy kop en aan sy lyf gesteek.

Hy moes twee dae in die hospitaal deurbring.

Dié voorval het in Augustus by die Hoërskool Forest Heights gebeur, maar die bende was onlangs weer daarop uit om sy seun seer te maak, vertel Waldeck.

Volgens hom het die Horribles sy seun eendag by die hek ingewag en daarom het hy in die pouse huis toe gehardloop.

Die bekommerde pa vertel: “Vier seuns het my seun voorgekeer en gekonfronteer.

“Hy is met ’n bottel oor die kop geslaan en toe dit breek, het hulle hom met die bottelkop ook oor sy lyf gesteek.

Baklei

“Ek voel net my kind het dit nie verdien nie, want hy is nie ’n gangster nie.

“Hy is ook nie die eerste kind wat by daardie skool gesteek word nie.

“Die gangsters vat die skool oor en gebruik dit om hul bende-aktiwiteite uit te voer.

“Hulle baklei met mekaar, maar target ook onskuldige kinders in die proses. Dis nou wel jong laities, maar hulle is gevaarlik.”

Waldeck sê die Hoërskool Forest Heights was ál die jare ’n goeie skool en sy twee dogters het ook daar gematrikuleer.

Hy is egter bekommerd die gangsters wat die skool nou so regeer, kan sy kind se toekoms benadeel.

Volgens Waldeck het hy die saak onder die skoolhoof se aandag gebring, maar die vier seuns gaan steeds daar skool.

Ondersoek

Hy sê ook hy dra nie enige kennis van ’n dissiplinêre verhoor wat deur die skool gehou is nie.

Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het bevestig die departement ondersoek nou die voorval.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters