Verlede jaar
Pa voor vrou, kids vermoor
in skok: Bure drom saam voor Gino Ford se huis.Foto: leon knipe  ~ 

’N PA van twee is ten aanskoue van sy vrou en kinders doodgeskiet.

Gino Ford (41) het pas met sy kar in sy driveway in Bundoranstraat, Connaught Estate, ingetrek toe die skieters op hom losgebrand het.

Ford het sy vrou en kinders by die kerk gaan haal toe die voorval Dinsdagaand gebeur het.

Volgens ’n bron was Ford nie by gangsters betrokke nie, maar was dit beslis ’n hit.

Die ingeligte vertel: “Hy is agtervolg.

“Die kar wat hy bestuur het, word ook lankal deur die boere gesoek.

“Die mense weet wat aangaan, maar hulle is te bang om te praat.”

Lizelle Natalie Holt, ’n vriendin van Ford, skryf op Facebook sy is geskok om van sy skietdood te hoor.

Gino FordFoto verskaf

Haar Facebook-inskrywing lui: “My hart is in stukke nadat ek gehoor het Gino ‘Boetie’ Ford, ’n dierbare vriend saam met wie ek grootgeword het, is voor sy vrou en twee kinders doodgeskiet.

“Hulle het dan van die kerk af gekom. Hoe kan die ouens so wreed wees?

“Hoe kan hulle net uitgaan en ’n lewe neem?

“Here, moet asseblief tog nie dat die vuilgoed vry gaan nie.

“Laat hulle vuil dade vir ewig by hulle spook.”

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, bevestig die polisie ondersoek ’n skietvoorval waarin ’n 41-jarige man in Connaught Estate noodlottig gewond is.

Van Wyk sê: “ ’n Wit Volkswagen Polo, met ’n onbekende registrasienommer, het agter hom in sy oprit stilgehou, waarna die insittendes verskeie skote op die slagoffer afgevuur het. “Hy het nog in sy bestuursposisie gesit. Die slagoffer het onmiddellik aan sy wonde beswyk en die skieters het in die Volkswagen Polo weggejaag.

“Geen arrestasies is nog gemaak nie.”

Volgens Van Wyk ondersoek die polisie ’n moordsaak. Hy vra enigeen met inligting oor die skietvoorval moet Crime Stop by 08600 10111 bel of die Ravens­mead-polisiestasie by 021 933 9000.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters