6 dae gelede
Pa voor seuns doodgeskiet
DROM SAAM: Inwoners was moeilik op die toneel waar een van hul eie doodgeskiet is.  ~ Ian Baard

’N HANDYMAN is ten aanskoue van sy kinders doodgeskiet – na bewering die handewerk van cops.

Só ontsteld was inwoners van Chris Nissen Park in Somerset-Wes oor die voorval dat hulle oproerig geraak het.

Robert van Wyk (40) is Dinsdag in Uranium-straat voor sy twee seuns se oë doodgeskiet.

Die gemeenskap was erg ontsteld omdat die polisie glo die man se huis betree het deur die deur af te skop. Hy is daarna na bewering aangerand en geskiet.

Só moerig was die skare dat die polisie traangas moes gebruik om hulle uitmekaar te jaag.

Ontplooi

Later moes polisieversterkings van Kaapstad, Gordonsbaai en Lwandle in die gebied ontplooi word.

Van die mense wat op die toneel met Son gepraat het, sê die polisie beweer die slagoffer het drugs verkoop.

Woedende inwoners sê dié bewering is ver van die waarheid af. Hulle sê Robert en sy vrou, Hybre, werk hard vir hul kinders.

Een van die buurvroue het gesê die polisie weet waar die drug-huise in die woongebied is, maar hulle gaan nooit soontoe nie.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) gaan die voorval ondersoek. Roger Jacobs (13), een van die seuns wat in die huis was, sê die polisie het hul deur afgeskop en ingestorm. Hy sê hy en sy broer, Jobre, het omstreeks 09:30 gelê en slaap toe die cops daar ingestorm het.

Die duidelik getraumatiseerde seun vertel: “Die polisie het my en my broer rondgeruk en ons klere van ons afgeskeur.

"Hulle wou nie hê ons moet die huis verlaat nie. My pa het net stil gelê nadat hy geskiet is. Ek het met hom gepraat, maar hy het niks gesê nie.”

Dinah Adams, plaaslike gemeenskapsleier, sê hulle sal graag wil hê dat die SA Menseregtekommissie ook by die ondersoek betrokke moet raak.

Geskors

Volgens haar is die slagoffer ’n man wat handyman-werk gedoen het en hy was altyd besig.

Sy sê sy sal wil sien dat die polisiebeamptes wat by die voorval betrokke is, dadelik geskors moet word en dat die twee kinders traumaberading moet ontvang.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters