Verlede maand
Pa vol gate gesteek en toe in die kop geskiet
BEKOMMERD: Pastoor Charles George, voorsitter van die Mfuleni-polisiëringsforum, is bekommerd oor die moorde wat toeneem.  ~ Foto Verskaf

’N PA van ’n tienerseun is met bottelkoppe gesteek terwyl hy vir sy lewe gesmeek het.

Nathan Reyneveld (34), ’n pa van ’n 14-jarige seun, is Saterdag in die vroeë oggendure vol gate gesteek en daarna ’n loodpil in die kop gejaag.

Reyneveld is Saterdagoggend omstreeks 06:00 by sy huis in Delft, N2 Gateway, in sy slaapkamer vermoor.

Hy en sy girlfriend het gelê en slaap toe jongens die deur ooptrap.

Die vier jongens het stukkende bottelkoppe gehad en Reyneveld begin steek.

Sy girlfriend het weggehardloop om hulp by die bure te gaan soek.

Reyneveld is herhaaldelik gesteek, terwyl die bure die jongens gesmeek het om te stop.

Inmekaargesak

Een van die vier jongens het toe ten aanskoue van ’n bejaarde buurvrou vir Reyneveld agter deur die kop geskiet.

Hy het langs sy bed inmekaargesak en is op die toneel dood.

Die jongens het daarna weggehardloop. Niemand is nog gearresteer nie.

  • In nog ’n skietvoorval wat Sondagaand in Delft plaasgevind het, is ’n 40-jarige man ernstig gewond.

Die voorval het omstreeks 23:00 in Voorbrug in Mendozastraat gebeur. Die slagoffer is tans in die hospitaal.

Volgens die voorsitter van die Mfuleni-polisiëringsforum, pastoor Charles George, is daar die naweek drie mense doodgeskiet en een ernstig gewond.

George sê: “Die meeste van die moorde is bendeverwant en dit raak ’n groot probleem. Delft het oornag gegroei en baie van die gangsters kom van ander areas en kom woon dan hier.”

  • In nog ’n skietvoorval is ’n sewejarige seuntjie ook in Manenberg gewond.

Die voorval het Saterdag 16:45 in Manenberglaan gebeur toe die seuntjie deur ’n dwaalkoeël getref is.

Hy is daarna hospitaal toe geneem. ’n Saak van poging tot moord is geopen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters