Verlede maand
Pa sterf by shop vir ’n bottel dop
Soek antwoorde: Getruida van Staden meen dít is beslis nie hoe iemand hanteer moet word selfs as hulle winkeldiefstal pleeg nie.  ~ _ANELE MFAZWE

DOODGESLAAN. Vermoedelik oor gesteelde whisky.

Dít blyk die lot van ’n man van Wesbank te wees.

Die 57-jarige Julius “Ling” Williams, pa van een dogter, is op 29 Julie onder vreemde omstandighede dood.

Volgens Getruida van Staden (51), Williams se suster, was hy sowat twee weke vermis voordat sy familie laas week die tyding van sy dood gekry het.

Van Staden sê die ondersoekbeampte in die saak het vir haar gesê haar broer is op 29 Julie by ’n drankwinkel in die Blue Downs-winkelsentrum vir diefstal gevang.

Na verneem word, het die sekuriteitsbeamptes hom in dié winkel se aanhouding­selle toegesluit.

Volgens Van Staden is haar broer gevang omdat hy ’n bottel whisky geshoplift het.

Tiep

Van Staden het gister aan Son vertel: “Toe die polisievên later die dag by die aanhoudingselle van die betrokke winkel aankom, het my broer op die vloer gelê en hy kon nie opstaan nie.

“Die sekuriteitsbeamptes het die polisie­beamptes blykbaar laat weet hy tiep net en hulle kan hom maar in hegtenis neem.

“Die polisie het geweier om hom te vat as hy nie op sy eie na die polisievên kon stap nie. Hulle is toe daar weg met ’n ander man wat ook in die selle was en net as ‘Rasta’ geïdentifiseer is.”

’n Ambulans is later na die winkel se aanhoudingsgedeelte ontbied.

Die paramedics het Wil­liams toe dood verklaar, sê Van Staden.

Sy voeg by sy glo vas iets moes gebeur het tussen die tyd toe Williams gevang is en die tyd toe die polisie daar aangekom het en weer later toe die ambulans aangekom het.

Volgens Van Staden het die ondersoekbeamptes haar vertel hulle het na die betrokke winkel se CCTV-beeldmateriaal gekyk.

“Op dié footage het hy (die cop) gesien vier sekuriteitsbeamptes is besig om Ling te skop terwyl hy op die grond lê,” voeg sy by.

“Die ondersoekbeamptes sê egter op die footage kan ’n mens nie uitmaak wie die sekuriteitsbeamptes is nie.”

Van Staden sê verder dit moes brute geweld gewees het wat op hom gebruik is.

Sy sê tranerig: “Dis brutaal om iemand dood te slaan. Vir ons, die familie, moes Ling nie só gesterf het nie. Dis was onnodig gewees.

Foute

“Hy het van die betrokke winkel gesteel. Ek hou egter die winkel en daai sekuriteitsmaatskappy verantwoordelik vir die lewe wat hulle geneem het.

“My broer het sy foute gehad. Ek praat nie sy dinge goed nie.

“Ons het hom altyd ge­peper dat hy sy verkeerde dinge moes af los.

“Ons het altyd met hom gepraat dat hy hom moet regruk en hom bekeer.”

Williams is Maandag 16 Augustus ingevolge Moslem-gebruike begrawe.

’n Polisiewoordvoerder, AO Joseph Swartbooi, bevestig die saak en sê ’n geregtelike doodsondersoek is oor die voorval geopen en dit word tans verder ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters