Verlede maand
Pa stel vrae oor quick fix
VERDAG: Beamptes van die Wes-Kaapse onderwysdepartement moes laas week rondskarrel ná ’n beweerde mix-up met geskiedenisvraestelle.  ~ Facebook

VIR party mense is die vraestel-debakel nog nie geskiedenis nie.

Ouers van matrikulante aan die Hoërskool Laingsburg ruik ’n rot ná ’n oënskynlike mix-up by die skool.

Van dié skool se geskiedenisvraestelle vir die eindeksamen is nie betyds by die Wes-Kaapse onderwys­departement (WKOD) se sentrum afgelewer om gemerk te word nie.

Son het Vrydag berig 25 leerders wat die geskie­denis-eind­eksamen geskryf het, het verlede week gehoor hulle matriekuitslae word as “onvolledig” beskou.

Nadat ondersoek ingestel is, is die vermiste antwoordstelle Woensdag op die skool se perseel gevind.

Die pak was steeds verseël, soos dit volgens voorskrif gedoen moet word, het Bro­nagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, gesê.

Die beamptes het gesorg dat die vraestelle Donderdag gemerk word. Die leerders het toe Vrydag­oggend hulle volledige uitslae ontvang.

Hoewel dié growwe fout nou reggestel is, is die vraag steeds hoe die stelsel so vol gate kan wees.

Hammond het gesê ’n ondersoek is aan die gang om vas te stel hoekom die vraestelle nie afgelewer is nie.

Een van die ouers, Shaun Felix, sê hy is nie heeltemal oortuig dat die WKOD ’n geloofwaardige ondersoek kan uitvoer nie.

Felix dring daarop aan dat ’n onafhanklike ondersoek gedoen moet word.

Hy redeneer: “Die WKOD kan nie homself ondersoek nie. Iemand moet van buite kom om in die eerste plek uit te vind hoe dit moontlik is dat die WKOD nie van die begin af opgelet het dat die vraestelle nie ná die eksamen afgelewer is nie.

Getel

“Daar is mos immers ’n check-stelsel.

“Daar is baie dinge wat nie sin maak nie.

“Elke vraestel wat na elke skool gestuur word, word getel.

“As dit terugkom, moet aangeteken word dat dit terug­besorg is. As die vraestelle nie terugbesorg is nie, moes dit onmiddellik opgetel geword het.

“Die verskoning dat die geseëlde vraestelle in die onderste laai in die kluis gevind is, maak nie sin nie.

“Ek kan dit ook nie glo dat hulle die vraestelle so gou gemerk het nie. Ons kinders is uitgebuit.

“Dit klink my die departement het nie daai vraestelle gemerk nie, want die punte maak ook nie sin nie.

“Dit klink asof die kinders gemiddelde punte gekry het.”

Volgens hom gaan sy dogter, Geneveve, nou vra dat haar vraestel weer gemerk word, want sy is ontevrede met haar punt.

Rol

Muhammad Khalid Sayed, die ANC-skaduminister van onderwys in die Wes-Kaap, eis dat die kop van die verantwoordelike beamptes rol.

Sayed sê: “Dit is duidelik dat daar growwe nalatigheid was.

“Of dit nou aan die skool of aan die departement se kant was, iemand moet afgedank word vir dié nalatigheid. Ons wil ook hê die departement moet by die wetgewer verslag kom doen oor wat gebeur het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters