3 maande gelede
Pa, seun geslaan
INVAL: Die vibracrete-muur word met ’n hamer stukkend geslaan.  ~ Foto Verskaf

POLISIEBRUTALITEIT is in die soeklig nadat cops na bewering ’n pa en seun aangerand het.

Die Suid-Afrikaanse Mense­regtekommissie (SAMRK) kyk na ’n voorval wat Sondagaand in Roosendal plaasgevind het.

Imraahn Mukaddam van die SAMRK het sy misnoeë met die polisie se optrede en beweerde brutaliteit uitgespreek.

Mukaddam sê: “Die gemeenskap werk hard om ’n goeie verhouding met die polisie op te bou.

“Dan word dit afgebreek deur cops wat onskuldige mense aanrand en hul magte misbruik.

“Die toenemende polisiegeweld wys die gemeenskap dat hulle kan maak soos hulle wil en hulle hoef aan niemand verantwoording te doen nie.

“Die provinsiale polisiekommissaris moet intree om die brutaliteit onder polisielede aan te pak.

“Baie onskuldige mense se regte en menswaardigheid word vertrap.”

Sy uitlating volg nadat die polisie na bewering Sondag ’n pa en seun van Roosendal in hul huis erg aangerand het.

Volgens ’n familielid het die cops ’n raid by ’n beweerde drug den in hul straat gedoen.

Die familielid sê: “Een van die kleinkinders het van die winkel af gekom. Die cops het hom voorgekeer en wou hom deursoek. Sy ouma het hom geroep en die hek gesluit.

“Die cops het toe ’n hamer gevat en die vibracrete stukkend geslaan om toegang tot die perseel en huis te verkry.

“Die cops, wat met lang guns gewapen was, het die plek bestorm.

“Hulle het die mense in die huis met traangas bespuit en aangerand.”

Die pa en seun is na bewering na ’n agterkamer geneem waar hulle herhaaldelik aangerand is.

In die kluis het die cops ’n wettige gun gekry waarvan die lisensie verval was. Die pa en seun is opgesluit sonder dat hulle mediese behandeling gekry het.

  • ’n Soortgelyke voorval het vroeër die jaar in Elsiesrivier gebeur.

In ’n klopjag het die cops na bewering ’n man erg aangerand. Hulle het die beseerde man by die daghospitaal gaan aflaai waar hy later weens sy beserings beswyk het.

Die outopsieverslag is nog nie klaar nie.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, is daar nog geen amptelike klag gelê nie. Hy sê geen wangedrag van polisielede sal geduld word nie. Stappe sal teen lede gedoen word as hulle aan wangedrag skuldig bevind word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters