5 dae gelede
Pa se moord: Gesin soek na antwoorde
HARTSEER: Hybre van Wyk glo haar man was reeds dood toe die cops gemaak het asof hulle hom na die hospitaal vervoer.  ~ Ian Baard

“DIE waarheid sal moet uitkom...”

Só sê die vrou van die man wat Dinsdagoggend na bewering ten aanskoue van sy twee seuns deur cops doodgeskiet is.

Uraniumstraat in Somerset-Wes was kort ná die skietery op Robert van Wyk (40) baie gespanne toe inwoners in Chris Nissen Park hul ontevredenheid oor die skietery uitgespreek het.

Polisieversterkings van ander polisiestasies is toe na die toneel ontbied waar skokgranate ook na die crowd gegooi is.

Van Wyk se vrou, Hybre, sê wat hulle nou diep kwel, is dat cops voorgegee het haar hubby leef nog terwyl hulle reeds geweet het hy is doodgeskiet.

Volgens haar is hy in die boarm en bors geskiet.

Sy vertel dat hulle nou baie agterdogtig is oor die manier waarop die polisie haar man se lyk van die toneel af verwyder het.

Die familie het ook aan Son gesê die polisie het nie ’n lasbrief gehad nie.

Die bedroefde Hybre vertel: “Die polisie het ons laat glo my man lewe nog.

“Daar is aan ons gesê hulle moet hom hospitaal toe neem.

“Hulle het vir hom suurstof gegee en hom in die ambulans gelaai.

“Ek en ’n vriend is agterna en toe ons daar kom, was my man nie by die hospitaal nie.

“Ons is toe na die Somerset-Wes-polisiestasie toe, waar die ambulans met sy lyk gestaan het.

“Die morgue van die forensiese afdeling was ook daar en sy lyk is toe daar gelaai en weggeneem.”

Toe Son gisteroggend by die huis aankom, was die familie en vriende besig om te help opruim.

Hulle sê die polisie het die hele huis gesmash. Die ruite is uitgeslaan. Kaste is stukkend geskop en die TV-stel is ook stukkend geslaan.

Gons

’n Buurvrou wat daar was om te help, sê die slagoffer was ’n baie goeie pa vir sy kinders.

“Hy het altyd werk gesoek om vir sy gesin te sorg. Toe Covid-19 verlede jaar toeslaan, was dit maar moeilik vir hom.

“Maar sy familie het altyd iets gehad om te eet,” het sy gesê. Dit gons in die sosiale media oor die voorval.

Baie mense het hul misnoeë oor die voorval uitgespreek.

Van hulle is die Vroue in Aksie van die Strand, asook die ANC se kiesafdelingkantoor in Somerset-Wes.

Die kantoor gaan glo die saak met die Wes-Kaapse provinsiale polisiehoof bespreek.

Dinah Adams, ’n gemeenskapsleier, eis dat die cops wat by Van Wyk se huis was, almal summier geskors moet word.

Dit hangende ’n ondersoek na hul beweerde betrokkenheid by die skietery.

“Hoekom tree die polisie dan net in ons buurte só op?

“Hoekom het hulle nie dieselfde houding by die rykmansbuurte van die Strand en Somerset-Wes nie?” wou Adams weet.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) was gister in die woongebied om met sy ondersoek te begin.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters