2 maande gelede
Pa se huis verniel
VERWOES: So lyk die slaapkamer van Gerald Capot se twee kinders ná die brand.  ~ 

’N ENKELPA is die hel in nadat tikkoppe by sy huis ingebreek en dit aan die brand gesteek het.

Gerald Capot van Hamilton Estate in Kuilsrivier was by die werk toe die voorval laas week gebeur het.

Capot sê hy het pas by die werk aangekom toe sy neighbours bel om te sê sy plek brand.

Capot sê: “Tikkoppe het deur my twee kinders se slaapkamer toegang tot die huis gekry.”

Alles in dié slaapkamer het in die slag gebly.

Al wat van die kinders se klere oorgebly het, is dit wat hulle aangehad het.

Hy sê wat hom vies maak, is dat die inbrekers sy plek aan die brand gesteek het.

Capot vaar uit: “Ek het nie woorde vir mense wat dit doen nie. Hulle kon enigiets in die huis gevat het, maar toe moes hulle dit ook aan die brand steek.

“As gevolg van die brand is dit nog nie duidelik wat alles gesteel is nie.”

Capot vertel toe die polisie vingerafdrukke gaan neem het, het hulle reguit gesê hulle gaan g’n vingerafdrukke kry nie oor die brand dit verwoes het.

Die pa sê hy is dankbaar dat sy neighbours die voordeur afgetrap het om die brand te probeer blus.

Hy bly tans by vriende in Sarepta totdat sy versekering sy huis herstel.

Siyabulela Malo, ’n woordvoerder van die polisie, het bevestig die polisie ondersoek sake van inbraak en brandstigting.

Malo sê: “Die motief van die brand moet nog vasgestel word.

“Daar moet ook nog vasgestel word wat gesteel is.

“Nog geen arrestasies is gemaak nie.”

Malo sê die Kuilsrivier-polisie vra dat enige een met inligting konst. Ntloko, die ondersoekbeampte, bel by 021 900 2800.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters