Verlede jaar
Pa ook vas oor ‘rape’
VERKOOL: Die wendy waarin die twee kinders was, is verwoes.  ~ 

DIE dêrra van die twee meisies wat Maandag in ’n verwoestende brand in Colorado Park, Mitchells Plain, verkool het, is gearresteer op ’n klag van kinderverwaar­losing.

Nóú het dit uitgekom die einste Cameron Adams (30) het nog ’n hofsaak waarin hy teregstaan op ’n klag van die verkragting van ’n kind.

Adams, van Colorado Park, het gister sy eerste verskyning in die Mitchells Plain-landdroshof gemaak.

Die hof het ook gehoor twee addisionele klagte van strafbare manslag staar die pa nou in die gesig.

Adams se meisie, Tasneema Brandt, die ma van die verkoolde kinders, is sedert die brand missing.

Adams en Brandt het na bewering ’n walk gevat om ’n foon te gaan haal en het glo kole in hul wendyhuis gelos om die plek warm te hou.

Zaithoen (2) en Zainura (7 maande), hul twee dogters, was alleen toe die brand uitgebreek het.

Geklee in ’n swart sweetpakbroek en ’n maroon top het Adams met blond getinte hare by die beskuldigdebank ingeskuif.

Toe landdros Alwira Bezuidenhout na die dokumente voor haar gekyk het, het sy geïrriteerd aan die staat gevra of Adams uit op borgtog was. Bezuidenhout het uit die klagstaat gelees: “ ’n Vuur is in ’n wendyhuis gemaak en die kinders is alleen daar gelos.

“Daarom sal daar twee klagte van strafbare manslag wees en een van kinderverwaarlosing.”

Son het gister berig daar is beweringe dat die brandweer amper twee uur later op die toneel gekom het.

Theo Layne, woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdiens, het egter gister gesê hul response time op die noodoproep was 17 minute.

“Die eerste oproep wat ons via die EMS-beheersentrum ontvang het, was 03:17.

“Die tweede oproep na die kommunikasiesentrum van die 107-noodnommer is 03:21 ontvang.

“Die eerste brandweerwa het omstreeks 03:34 op die toneel aangekom en ’n tweede 03:36.”

Die staat het aangedui hy gaan borgtog teëstaan.

Landdros Bezuidenhout wou gedurende die hofsaak weet of een van die dooie kinders die verkragtingslagoffer in die ander saak was.

Die staat het egter verduidelik dit is ’n afsonderlike saak en ’n ander kind is daarby betrokke.

Die rape-saak is uitgestel tot 11 Julie, waarna Bezuidenhout die saak van kinderverwaarlosing ook tot dié datum uitgestel het.

Adams bly in aanhouding.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters