29 dae gelede
Pa ly, kla familie
pa ly
Stief: Oorle’ oom Paul Roux se familie beweer hospitaalpersoneel het glad nie mooi na hom omgesien nie.  ~  FOTO’S VERSKAF

DIE familie van ’n man wat dood is aan septisemie blameer die Tygerberg-hospitaal en beweer die verpleegpersoneel was nalatig.

Mezelda Julies sê vier maande ná haar pa, Paul Roux (78), se skielike dood is hul harte steeds stukkend.

Volgens Julies het haar pa, van Eureka Estate in Elsiesrivier, ’n pynlike dood gesterf en sy liggaam was vol bed­sere.

Sy sê toe hulle hom met lae bloedsuiker in die hospitaal laat opneem, het hy nie een seer aan sy liggaam gehad nie.

Op foto’s wat Julies in die hospitaal van haar pa geneem het, kan gesien word hoe sy stuitjie byna ingeval is as gevolg van die bedsere.

Volgens Julies was hulle diep geskok toe hulle haar pa in dié toestand in die hospitaal aantref.

Sy vertel: “Julle moes gesien het hoe hy lyk toe ons in die hospitaal op hom afkom.

“Daar was nie ’n personeellid aan diens nie.

“Sy klere is weg met ’n ander pasiënt wat dit aangetrek het en toe oorgeplaas is na die Eersterivier-hospitaal. Hy self het nie eens klere gehad nie.”

Volgens Julies het hulle hul pa se toestand onder die dokter se aandag gebring.

“Ons het vir hom gesê dat daar ’n infeksie is. Die ander pasiënte in die saal het vir my en my suster gesê ons moet my pa huis toe neem, want hy gaan dood in die hospitaal.

“Daar is vertel dat wanneer my pa in die nag na die verpleegsters roep, kom hulle nooit uit nie.

“Die ander pasiënte moet dan opstaan om na my pa en die ander ouer pasiënte om te sien. Hulle moes ook vir hulle water gee.”

Volgens Julies het hulle ook by tye haar pa se bord kos nog daar sien staan wanneer hulle hom besoek.

Sy sê die verpleegsters het nie eens die ekstra myl gegaan om hom te voer nie.

Julies skel: “Dit maak my sommer van voor af kwaad as ek hieraan dink.

“Selfs gedurende die lockdown-tyd was daar nie gereeld iemand aan diens in die saal nie en die pasiënte moes op ’n nuwe skof wag om in te kom.”

Toe Son Laticia Pienaar, woordvoerder van die Tygerberg-hospitaal, vir kommentaar nader, was sy verbaas dat Roux se familie ontevrede is met die diens wat hulle gelewer het.

Vergadering

Sy sê dit is die eerste woord wat hulle hoor dat die familie ontevrede is.

Pienaar sê: “As hospitaal sal ons eers al hul vrae beantwoord voordat ons enige inligting in die media bekend maak. Ons sal hulle kontak om ’n vergadering te reël.

“Sou hulle die nodigheid voel dat ons in die media moet reageer, sal ons dit doen.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters