Verlede maand
Pa in penarie
HUIS: Moulana Shahied Lakay sê dis hel om onder sy eie dak te bly.  ~ Peter Abrahams

’N GODSMAN sê hy moet soos ’n visitor in sy eie huis bly.

Moulana Shahied Lakay sê die afgelope twee weke was dit hel onder sy eie dak.

Lakay (50) het in Februarie ’n huis in Bellingham Crescent in Westridge, Mitchells Plain, gekoop met die hoop om sy gesin ’n ordentlike lewe te gee.

Min het hy geweet hy sou maande lank sukkel om die huurder, Berenice Barbier, te kry om te verhuis.

Lakay sê hy moes Barbier vra of hy in sy eie huis kan woon. Die godsman het skoons by die polisiestasie beland oor hy in sy eie huis geslaap het.

Hy verduidelik: “As gevolg van lockdown is die huis eers in September geregistreer. Ons het daai selfde dag met Berenice gaan praat en die volgende dag weer. Maar ons is toegang geweier.

“Eventually het ons besluit ons moet ons goed in die huis sit. Dis op my naam en ek betaal.”

Lakay sê hy en sy gesin het so twee weke gelede besluit om maar die huis met Barbier en haar gesin te deel.

Dis nadat die behuisingstribunaal gesê het sy moes teen die afgelope Maandag uit gewees het. Volgens Lakay het Barbier toe die polisie gebel oor hy by sy huis “ingebreek” het.

“Hoe breek jy by jou eie huis in, wil ek weet?

“Ek moes ingaan omdat ons klaar begin bond betaal het en ek het ook ’n familie om na te sien.

“My ma is oud, my een dogter is swanger en die ander een gestrem.

“Hulle moet die stairs gebruik omdat Berenice onder wil bly. Sy maak die lewe vir almal ongemaklik. Ek het even voorgestel dat ek vir haar ’n plek in Lost City kry, maar sy wou nie uit nie.”

Die moulana pak uit oor Barbier, wat glo vir enige iets die polisie bel.

“Ek is ‘gearresteer’ omdat ek in my eie huis geslaap het. Die polisie het my met omtrent sewe karre kom oplaai, maar hulle wou nie die saak open nie omdat hulle weet sy is verkeerd.”

Lakay meen dit wys ook hoe onregverdig die stelsel is, want “hulle kan nie vir ernstige sake uitkom nie”.

KLAAR MET HAAR: Patrick Pillay sê hy is bly Barbier gaan trek. Foto: Peter Abrahams

Patrick Pillay (68), die oorkantse neighbour, sê in die 40 jaar dat hy in die straat bly, was daar nog nooit sulke drama nie.

Pillay beweer Barbier het die moeilikheid saam met haar gebring. Hy sê sy is die moeilikste neighbour wat nog hier gewoon het.

“Ons pad is soos ’n familie, maar sy is iets anders.

“Ons staan agter die moulana en ons wil haar nie meer hier hê nie.”

Foto’s

Son het Barbier om kommentaar genader en ’n uur en ’n half gewag nadat sy aangedui het sy gaan praat.

Nadat sy skelm foto’s van die verslagspan geneem en ons met die polisie gedreig het, het sy gesê sy gaan nie praat nie omdat dit ’n legal matter is.

KAP ZIP: Ná beloftes van kommentaar het Berenice Barbier besluit om stil te bly. Foto: Peter Abrahams

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters