Verlede maand
Pa doodgeskiet reg voor sy huis
DERRA: Lorenzo Manuel (28) is doodgeskiet toe hy sy kar wou gaan intrek.  ~ FOTO verskaf

’N GEMEENSKAPSLEIER van Wesbank voel haar familie word getarget nadat nóg ’n familielid van haar oor die naweek koelbloedig doodgeskiet is.

Lorenzo Manuel (28) is Saterdagaand voor sy huis in Arendskopstraat drie keer geskiet. Hy is op die toneel dood.

Hy was omstreeks 23:00 op pad om sy motor in die jaart in te trek toe drie jongens op hom skiet. Hy is van agter in die kop, arm en skouer getref.

Manuel se familie het gister die onaangename taak gehad om sy lyk te gaan uitken.

Edith van Wyk, ’n hartseer familielid en gemeenskapsleier, sê: “Hy was nog op pad na die hek toe die jongens op hom skiet. Hy sou oor twee weke verjaar het.

“Hy was sy familie se broodwinner en het twee dogters van vyf en ses jaar oud. Hy het net gelewe vir sy twee dogters en nou is hul pa nie meer daar nie.

“Hy was nie eens ’n gangster nie en ons weet nie hoekom die jongens hom geskiet het nie. Dit is die hóéveelste familielid van my wat deur gangsters doodgeskiet is.

“Eers was dit my seun en daarna my broer. Twee weke daarna het my ma afgesterf oor sy nie my broer se dood kon verwerk nie. Nou is dit my suster se seun wat hulle doodskiet.

“Die gangsters het ook al my suster se motor aan die brand gesteek en ’n deel van haar huis het ook afgebrand.

“Ek is ’n community activist en wat hulle aan my familie doen, is nie reg nie.

“Ek werk en help die gemeenskap en duld nie bendegeweld nie.

“Genoeg is genoeg!

“Dit voel asof my familie in hierdie gemeenskap ge-target word.”

Volgens Van Wyk is twee ander onskuldige mense ook Woensdag in Wesbank doodgeskiet.

Sy sê die gangsters skiet enige een wat hulle in die aande op straat kry.

  • In ’n voorval Sondagoggend, ook in Wesbank, is ’n man wat op pad was om geld by die OTM te trek, ook doodgeskiet.

Dit het op die oop stuk veld oorkant die Caltex-vulstasie in die hoofweg gebeur en die 28-jarige man is op die toneel dood.

Stop

AO Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, sê ’n groep onbekende mans het die man genader en begin skiet. Hy’s noodlottig gewond.

Lorna Frieslaar, voorsitter van Wesbank se gemeenskapspolisiëringsforum, sê hulle weet nie meer wat om te doen om die bendeskietery te stop nie.

Swartbooi sê die motief vir die moorde is onbekend en niemand is nog gearresteer nie.

Twee moorddossiere is geopen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters