3 maande gelede
Outjie sterf op die Sexy Boys se turf
geskiet: ’n Onbekende man is dood. FOTO TER ILLUSTRASIE  ~ 

’N MAN is Vrydag in Belhar, ’n bastion van die Sexy Boys-bende, doodgeskiet.

Jerome “Donkie” Booysen is na bewering die leier van dié bende en het laas jaar self ’n aantal noue ontkomings gehad toe daar ’n paar mislukte aanslae op sy lewe was.

Hierdie voorval is vermoedelik ook bendeverwant en het omstreeks 12:00 langs Symphony-weg gebeur.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n onbekende verdagte of verdagtes het op die 22-jarige man losgebrand.

Motief

Die man het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Geen arrestasies is tot dusver gedoen nie.

Volgens Van Wyk word die omstandighede rondom die voorval ondersoek en is die motief vir die skietery nog onbekend.

News 24 berig die skietery kan verband hou met die Mobsters, ’n groep hitmen wat sterk gevestig is in Bishop Lavis en ’n faksie van die 28’s-tronkbende is.

Die polisie kon egter nie dié gissings bevestig nie.

Enigiemand met inligting oor hierdie skietvoorval, word gevra om die Stop Misdaad-nommer, 08600 10111, te skakel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters