4 maande gelede
Ouma sê oor Jeremiah se beserings
GETUIE: Gayle Ruiters het aan die hof gesê Jeremiah was ’n baie gesonde kind. Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

“WAT het julle aan Jeremiah gedoen?”

Só het die 17 maande oue Jeremiah Ruiters se ouma Gayle Ruiters geskreeu op die kleintjie se ma, Abigail Ruiters, en dié se boyfriend, Ameerudien Peters, nadat die kind dood verklaar is.

Gayle was by die werk toe sy die tyding van sy dood kry.

Die ouma het gister getuig sy het onmiddellik haar werk verlaat en na die Factreton-kliniek gegaan.

“Ek het in die kamer ingegaan waar hy was, maar hy was klaar dood.

“Ek het so gehuil daar.”

Jeremiah is dood verklaar nadat Peters op 12 Junie 2017 met die kind by die Factreton-kliniek opgedaag het.

Die ouma het omstreeks 13:30 daar aangekom en Abigail en Peters buite gekry.

“Ek het geskreeu en vir hulle gevra: ‘Wat het julle aan Jeremiah gedoen?’

“Abigail het vir my gesê ek moet vir Ameerudien vra, maar hy het niks gesê nie,” getuig sy.

Gayle getuig sy het huis toe gegaan. Jeremiah se pa en ’n polisievrou het sy twee ouer sussies kom haal.

“Ek het ná dit terug kliniek toe gegaan, maar teen daai tyd het die mortuary al Jeremiah se lyk verwyder,” getuig sy.

Op pad kliniek toe het Gayle gesien Peters en Abigail was op pad polisiestasie toe en sy het ook daarheen gegaan.

Verskonings

“Ek het ingegaan om te gaan kyk waar Abigail is.

“Ek het hulle twee gesien en dit was die laaste keer dat ek vir Abigail gesien het.”

Gayle het ook getuig oor Jeremiah se beserings en die verskonings wat aan haar gegee is.

“Ameerudien het vir my gesê Jeremiah het van die kas afgeval en dis hoe hy sy skouer beseer het.”

Die kind was toe twee weke in die hospitaal vir mediese behandeling met Abigail aan sy sy.

Verder het sy getuig Peters het vir haar gesê Jeremiah het sy vinger op ’n plaat seergemaak.

Gayle het getuig haar suster het dieselfde storie gehad.

Sy het verder getuig dat sy niks aan Jeremiah gesien het wat haar bekommerd gemaak het oor sy gesondheid nie.

Sy sê hy was “baie gesond”. Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters