4 maande gelede
Ouma sal nie kind vergewe
BITTER: Jennifer Basson vertel hoe haar dogter haar kinders sommer net so gelos het.  ~ Peter Abrahams

SALDANHA. – ’n Ouma se kleinkind is hier vermoor waarvoor sy haar dogter nooit ooit sal vergewe nie.

Sy blameer haar dogter oor dié haar kinders jare gelede verlaat het.

Jennifer Basson (62) se hart is stukkend oor haar geliefde kleinkind Errol (19) Saterdag doodgesteek is.

Errol is maar een van vier kleinkinders na wie Jennifer reeds vir meer as 20 jaar omsien.

Jennifer blameer haar dogter Brenda.

Sy vertel Brenda het meer as 10 jaar gelede die kleinspan netso by haar gelos toe sy en haar man geskei het.

Volgens die ouma het die hele situasie haar kleinkinders só erg geaffekteer dat sy van 2015 sielkundige hulp vir Errol moes kry.

“Errol het aggressief begin raak en sy emosies op my begin uithaal,” vertel die ouma.

Volgens die ouma haar het haar kleinseun die afgelope maand voor sy dood uitgehaak en wou hy ál wat ’n mens is met ’n mes steek. Hy het toe vier mense gesteek.

Maar Jennifer sê hy het ’n fout gemaak om een van sy eie vriende te steek.

Toe steek dieselfde vriend hom morsdood.

Jennifer vertel: “Ek blameer hul ma. Want sy het hom soos ’n hond weggegooi.

“Waar was sy in die nagte toe ek by Errol se voete gesit het en hom gevra het om beter te raak?

“Hy was glad nie ’n slegte kind nie en het altyd my huis skoon gehou.

“As haar kinders haar in die pad gesien het, dan huil hulle snot en trane.

“Dis ek wat maatskaplike werkers moes inkry om my met hulle te kom help.”

OP DIE SCENE: Jennifer Basson wys waar haar kleinkind Saterdag sy laaste asem uitgeblaas het. Foto: Peter Abrahams

Die streng maar liefdevolle ouma voeg by daar was selfs tye toe sy genoodsaak was om haar geliefkoosde kleinseun te laat opsluit.

“In daai tye het die polisie en die korrektiewe dienste ook opgemerk dis nie net ’n stout klong nie, maar dat iets diep aan hom vreet.”

Sy vertel: “Die polisie sal hom in die vên laai en hy sal onbeheerbaar huil. Hy sal dan uit die vên vir my skreeu: ‘Jy sal nie verstaan waardeur ek gaan nie’.

“Daai woorde van die kind het my hart altyd gebreek.

“Die polisie wou hom ook nooit regtig toesluit nie, want hulle het gesien hy het ander issues.

Ouma Jennifer sê: “Wat my seker die heel seerste gemaak het, is toe ek sien hoe daai dogter van my by haar eie klong se lyk staan en lag. Selfs toe sy enigste sustertjie oor hom lê en huil, het dit haar min gepla.

Kommentaar

“Ek soek wragtig nie vir Brenda Vrydag (môre) by Errol se begrafnis nie. Ek sal haar wegjaag vir die hond wat sy is.”

Toe Son Brenda by haar huis vir kommentaar nader, wou sy nie praat nie.

Al wat sy gesê het, is dat haar ma uitgevra moet word oor haar seun se dood en nie sy nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters