25 dae gelede
Ouma al siek van worry
KOMMER: Ouma Magrieta Gordan glo haar kleinkind sal nog gekry word.  ~ Peter Abrahams

“EDWINA, kom asseblief huis toe. Ek verlang na jou!”

Met trane in haar oë vertel antie Magrieta Gordan dat sy sedert Julie nie ’n nag in vrede kan slaap nie omdat sy oor haar kleindogter worry.

“Is sy warm? Het sy klere? Het sy kos om te eet? Is sy veilig?”

Dís die vrae wat deur die ouma van Edwina Jantjies se kop gaan.

Steeds bly die ouma biddend en glo die meisie is nog in die land van die lewendes.

Gordan (79) se kleinkind Jantjies (20), van Ocean View, word sedert Julie vermis en het soos mis voor die son verdwyn.

Uithelp

Gordan vertel met ’n knop in die keel oor hoe lief sy vir haar kleindogter is.

“Edwina is my beste kleinkind.

“Sy is die kleinkind wat jou altyd sal uithelp en nou voel dit asof ek ’n stuk van my hart verloor het.”

Gordan verduidelik sy het steeds haar kleinkind gesien nadat Jantjies twee jaar gelede by haar boyfriend oorkant die pad ingetrek het.

Ná ’n ruk het Jantjies glo begin dwelms gebruik, maar volgens Gordan het dit nie haar persoonlikheid verander nie.

“Al wou ek hê sy moes weer by die huis intrek, het ek geweet dat sy ook vir haar kind daar bly.”

Twee weke voordat Jantjies vermis geraak het, het sy weer ’n week by Gordan gewoon.

“Ek was so bly. Elke dag het ek haar laat weet ek is lief vir haar.

“Dit was amper asof ek weer my Edwina teruggekry het.”

Maar skielik is Gordan se lewe weer onderstebo gegooi.

Gordan sê toe sy nie haar kleindogter gesien het nie, het sy navraag by die boy­friend en die polisie gedoen.

“Daar is soveel stories wat rondgaan. Dat sy vir huisbraak gearresteer is, dat daar ’n vrou se lyk gevind is en dat haar klere op ’n oop stuk veld lê ...”

Nadia Petersen, voorsitter van die gemeenskapsorganisasie Groundbreakers, sê die soektog na Edwina het geëindig nog voor dit begin het.

Petersen, wat Jantjies deur haar voedingsprogram ken, sê Jantjies was die een wat die kinders daarheen gebring het vir kos.

“My hart is in stukke. Jy leer om die mense lief te hê en wanneer jy hulle nie sien nie, mis jy hulle.”

Inligting

Brig. Novela Potelwa, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n uitgebreide soektog na Edwina in samewerking met die GPF en gemeenskaps­lede is van stapel gestuur.

“Enige een met inligting kan die Ocean View-polisie bel by 021 783 8306 of die ondersoekbeampte, konst. De Corker, kontak by 079 894 0137.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters