Verlede maand
Oues se kurkdroë krane weer oop
water
Krane wat ’n week droog was, het ná Son se oproep gou weer geloop.  ~ 

’N SIEKLIKE bejaarde paartjie van Sarepta het omtrent ’n week sonder water gesit.

Hul waterrekening is met duisende rande agterstallig en hulle sou hul karige pensioengeldjies moes gebruik om die rekening te vereffen voordat die toevoer herstel kon word.

Maar Vrydag laatmiddag is die water weer aangesit, nadat Son by die Stad Kaapstad oor die geval navraag gedoen het.

Volgens Hugo Adams (75) moet hy nou benewens sy maandelikse paaiement elke maand R300 vir die agterstallige rekening opdok sodat die water aan kan bly.

Adams sê: “Ons is veronderstel om 200 F water verniet te kry, maar die krane was droog.

“Daar was nie eens water om ons pille te drink nie. Ek is ’n diabeet en móét water drink. In die aande raak my mond so droog, maar dan kan ek nie eens water drink nie. My vrou is ook sieklik.

“Ons het maar by die bure rondom ons water gebedel.

“Dit is nie genoeg nie, want ons kan hulle nie elke dag vir water vra nie. Ons kan ook nie bekostig om water te koop nie.

“Ons het al verskeie kere na die behuisingskantoor gegaan om reëlings te tref om die agterstallige geld te betaal. Die water is veronderstel om op ’n drupstelsel te wees, maar die krane was kurkdroog.”

Volgens Adams het hy in die harde lockdown agterstallig geraak met sy rekening.

Reaksie

Volgens Ian Neilson, mayco-lid vir finansies, is Adams in ’n aanmaningsbrief gewaarsku om sy diensterekening te vereffen. Neilson sê: “Die meeste mense kom na ons kantoor en tref reëlings om hul agterstallige rekening te betaal.

“Ons het geen reaksie van Adams gekry nie en daarom is sy water op die drupstelsel geplaas.”

Volgens Neilson kan Adams by sy naaste behuisingskantoor reëlings tref dat sy watertoevoer aan kan bly.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters