12 dae gelede
Ouers vra vir justice, mercy
Yagyah Robyn  ~ Peter Abrahams

TWEE ouers, een van ’n vermoorde kind en een van ’n seun wat die moord gepleeg het, het gister huilend in die Kaapse hooggeregshof gepleit vir hul kinders.

Berenice Britz, die ma van die verkragte en vermoorde Camron Britz (14), het gister die hof gevra om haar kind se moordenaar te laat boet vir sy dade.

Yagyah Robyn (20) is laas week skuldig bevind aan die moord op en verkragting van sy verlangse niggie.

Robyn en Camron het in Ocean View gewoon toe Camron se halfnaakte lyk op 2 Julie 2017 op ’n oop stuk veld langs Slangkopweg gevind is.

Berenice het ’n geraamde foto van haar dogter saam hof toe geneem. Sy het gehuil toe die staatsaanklaer, adv. Liezel Herbst, haar gevra het om die foto aan die hof te wys.

“Kyk vir haar, Yagyah. Ek wil hê jy moet sien wat jy van ons weggevat het. Ek gaan haar nie weer terugkry nie,” het sy huilend gesê.

Berenice het gesê baie mense kan getuig haar kind was liefdevol en selfstandig.

“Yagyah, jy self kan van haar liefdevolheid getuig. Sy het dit nie verdien om so wreed dood te gaan nie.”

Volgens Berenice het haar man se familie (Yagyah se gesin) haar ná die voorval sleg behandel.

“Hulle het nog ’n kind wat hulle kan gaan visit. Ek moet na ’n graf toe gaan.”

Berenice het ’n gedig wat Camron twee dae voor die moord op haar geskryf het, in die hof voorgelees. In die gedig voorspel sy haar eie dood.

Robyn se pa, Sharief, het die hof huilend gesoebat om sy seun genade te bewys ten opsigte van vonnis.

“Dit sal ’n verlies vir almal wees as hy vir lewenslank tronk toe gestuur word.

“Gee asseblief vir my kind genade. Daar is nog so baie wat hy wil doen en wat ons saam met hom wil doen.”

Sharief het gesê hoewel hy berus in die hof se uitspraak, glo hy sy seun wanneer hy sê hy het niks met die moord te doen gehad nie.

“Ek het my kind grootgemaak om respek en liefde aan oud en jonk te betoon. Hy sal nie so iets doen nie.”

Herbst het Sharief remind dat sy seun nog ’n saak van seksuele aanranding teen hom het waarby agt minderjarige laaities betrokke is.

Sharief het gesê ook in daardie saak glo hy aan sy seun se onskuld.

Robyn se lawyer, Emile de Villiers, het die hof gevra om sy ouderdom in ag te neem en dat hy ’n eerste oortreder is. Hy het gesê dat Robyn vanweë sy ouderdom gerehabiliteer kan word.

Herbst het in haar betoë gesê rehabilitasie loop hand aan hand met berou en dat Robyn glad nie berouvol was nie.

Sy het die hof gevra om vir die moord en verkragting elk ’n lewenslange vonnis te gee.

Robyn sal op 14 Augustus gevonnis word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters