10 dae gelede
Ouers stuur hul kinders steeds
MAATS: Die kinders is baie bly om mekaar weer te sien en speel alte lekker by die skool.  ~ Peter Abrahams

“HÍÉR sal my kind skoolgaan!”

Só sê ouers nadat die minister van onderwys, Debbie Schäfer, in Desember die Voor-Groenberg Primêre Skool se deure gesluit het.

Gister op die eerste dag van die nuwe skooljaar het meer as 80% van die leerders die skool bygewoon.

Selfs nadat Schäfer aanbeveel het die kinders moet by die Wagenmakersvallei Primêre Skool ingeskryf word, het die ouers steeds geweier om dit te doen.

Toe Son gister die skool besoek, was die onderwysspan en skoolbeheerliggaam volstoom besig om skool te hou.

Gresswin Ludick, die voorsitter van die skool­beheerliggaam, het aan Son gesê hul advokaat is besig om die saak in die hof te veg.

Ludick sê: “Ons prokureur het gesê ons moet voortgaan met die kinders en hy sal agter die skerms werk.

“Ek kan nie verstaan hoe die departement die skool sluit en hulle het laas jaar ’n driejaar-kontrak met die Verenigende Gereformeerde Kerk aangegaan nie.

“Toe ons onlangs die departement van onderwys kontak, is daar aan ons gesê die minister kan nie teruggaan op haar besluit nie.

“Ons het aan hulle gevra om die sluiting te heroorweeg, maar hulle het aan­beveel ons moet liewer hof toe gaan.”

Tina Steyn, wat drie kinders in die skool het, sê sy weier om haar kinders by ’n ander skool in te skryf.

“Ek sal elke dag my kinders skool toe bring, want hulle is veilig hier.

“Die skool is loopafstand van ons huis af en dis maklik vir hulle om by die skool uit te kom.

“Hulle is te klein om nou al met ’n bus te ry en wie gaan dan na hulle kyk sou hulle nie meer op die plaas skoolgaan nie?

“Ek is trots op en tevrede met hierdie skool.”

Selfs Johanna Pietersen, wat daagliks vir die kinders kook, sê sy gaan werkloos wees as die skool sy deure finaal sluit.

Pietersen het aan Son gesê sy het elke dag gesorg dat die kinders hul pap en middagete kry.

Sy sê sy was selfs daar wanneer hulle ’n skouer nodig gehad het om op te leun.

Afskeid

Sy het die afgelope drie jaar waarin sy by die skool gewerk het, baie geheg aan die kinders geraak.

TEENWOORDIG: Meer as 80% van die leerders het gister by die plaasskool opgedaag. Foto: Peter Abrahams

Volgens Pietersen gaan sy baie moeilik van die kinders afskeid neem.

Nadat Son die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) genader het en gevra het of hy weet die skool is oop, het die skool ’n oproep van die departement ontvang, sê Ludick.

Volgens hom is daar aan hulle gesê ’n sekuriteitsmaatskappy sal vandag by die skool wees en geen leerder óf personeel sal toegelaat word nie.

Ludick sê hulle sal seker maak daar word nie met die kinders se toekoms gemors nie.

Volgens Kerry Mauch­line, Schäfer se woordvoerder, is die skool gesluit.

Verskyn

Mauchline sê sommige ouers en hul kinders was by die skool, maar daar het geen onderrig plaasgevind nie.

Sy sê die sluiting van die skool het reeds laas jaar in die Staatskoerant verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters