2 maande gelede
Ouers, meisie se hoop verdof
ondersteun: Christene Van Blerk en Cleo Adonis is gister omring deur familie en die gemeenskap van Hangberg. Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

“HY MOET net huis toe kom, dan kan ek rus.”

Goedgelowig en onder trane was dít gister die verwese woorde van Durick van Blerk (25) se swanger girlfriend, Cleo Adonis (22).

Sedert dinge Sondag so liederlik in hul vissers­gemeenskap gedraai het en Durick missing ter see is, sukkel sy om te slaap.

Van Blerk en Adonis gaan al agt jaar uit en hul eerste kindjie is op pad. Adonis weet nog nie hoe sy die babatjie sonder sy derra gaan grootmaak nie.

“Dit is nie ’n lekker gevoel om nie te weet waar jou geliefde is nie. Oor ’n paar weke moet ek kraam. Hy moet hier wees.”

Die jong visserman se ouers­, Christene (57) en Edward (59), was gister uiters emosioneel toe hulle oor hul vermiste seun praat.

Ook hulle hoop steeds dat hy lewend gevind sal word.

“Ons het hoop dat hy gevind sal word.

“Maar hoe langer dit vat, hoe minder raak die hoop.

Onderhou

“Ons het al in ons hart vrede probeer maak oor wat die uitkoms kan wees,” sê Edward.

Sy familie vertel dat Durick die rubberduck vroeër vanjaar gekoop het om sy gesin te onderhou.

Gister was Durick se ouers ook op die hawe toe die polisieduikers na hul seun gaan soek het.

  • Durick en twee ander vissermanne, Errol Johnson (45) en Riaan Knewel (36), was Saterdag in die vroeë oggendure uit om vis te vang toe hulle na verneem word deur ’n patrollieboot van die visserydepartement en polisiemanne voorgekeer is.

Die bewering is voorts dat daar op die drie manne geskiet is en dat Durick raak geskiet is en oorboord geval het.

Johnson en Knewel is toe gearresteer.

Edward sê hulle kan nie presies sê wat gebeur het nie, maar hy bevestig dat die drie op die boot was.

“Ons weet self nie, maar die bespiegeling is dat die polisie op hulle geskiet het,” sê hy.

FAMILIE: Edward van Blerk (pa), Cleo Adonis (meisie) en Christene van Blerk gister op die Houtbaai-hawe, waar polisieduikers vir hul geliefde gaan soek het. Foto: PETER ABRAHAMS
Hartseer: Cleo Adonis en Durick Van Blerk verwag hul eerste baba in n paar weke.
ondersteun: Christene Van Blerk en Cleo Adonis is gister omring deur familie en die gemeenskap van Hangberg. Foto: PETER ABRAHAMS

Gevra of hulle vermoed of Durick getref is, sê die pa daar is tans geen bewyse daarvan nie.

Adonis het Johnson en Knewel wel gaan besoek terwyl hulle Sondag nog in aanhouding by Tafelbaai se hawepolisie was.

Adonis sê: “Hulle het net gesê hulle dink hy het gejump, maar kon nie sien wat gebeur het nie.

“Maar daar is op hulle geskiet, het hulle gesê.”

Die familie het intussen self gister langs die kuslyn na Durick gaan soek.

“Ons as gemeenskap kan nie net agteroor sit en wag nie,” sê Edward.

Die familie sê selfs al kry hulle net hul kind se body om te begraaf, is dit darem iéts.

“Ons wil peace of mind hê,” sê die pa.

Volg Astrid Februarie op Twitter.

Stuur nuuswenke aan info@son.co.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters