Verlede maand
Ouers, hof wag
RUK OP: Betogers by ’n vorige hofsaak toe die twee beskuldigdes verskyn het.  ~ Foto Verskaf

“MAAK nie saak hoe oud ’n kind is as hy sterf nie, geen ouer verdien dié pyn nie.”

Só het Henry Jeffries (35), neef van die 31-jarige Riaan Syster, gister by die Malmesbury-hof gesê oor hoe hard Syster se dood sy antie getref het.

Hy vertel Syster se ma, wat ook ’n diabeet is, het baie agteruitgegaan nadat haar seun op 26 April vermoor en sy lyk op hul stoep gelos is.

Syster is met ’n baksteen teen die kop geslaan en minstens 12 keer in en rondom die bors gelem.

Die hoofbeskuldigde in sy moordsaak, Maxwell van Wyk (24), het gister, in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

Die saak is weer uitgestel tot 30 September ná ’n vertraging met die DNS-uitslae, wat sal bepaal of dit wel Syster se bloed was wat op beskuldigde nr. 2 gevind is.

Beskuldigde nr. 2, Cheslin Pedro (22), het staatsgetuie gedraai voordat die twee in Mei op borgtog van R1 500 elk vrygelaat is.

Jeffries sê ná ses maande van hofvertragings begin dit nou ’n tol eis op die slagoffer se ouers.

Vergewe

“My antie se hare het oor die maande begin uitval as gevolg van al die stres rondom Riaan se dood.

“Hoewel sy Riaan se moordenaars vergewe het, slaap sy nog steeds nie reg nie en die suiker het haar ook beet.

“Sy en Riaan se pa wil nie die hof bywoon nie, maar hul vertroue is in die regstelsel en dat geregtigheid sal geskied vir hul seun,” vertel Jeffries.

Volgens Jeffries en Riaan se suster, Rinene, stem Van Wyk en Pedro se weergawes nie ooreen oor die aand toe Bruggie (soos Riaan bekend was) gesterf het nie.

Rinene vertel volgens Pedro het hy weggehardloop nadat Van Wyk haar broer met ’n baksteen gegooi het en hy weet nie wat daarna gebeur het nie.

“Cheslin sê hy het weggehardloop nadat Maxwell vir Bruggies met die baksteen teen die kop gegooi het.

“Volgens hom het hy by die skool se hek oorkant ons huis vir Maxwell gestaan en wag.

“Ná 20 minute het Maxwell vol bloed teruggekom.”

Rinene sê volgens Pedro was Van Wyk se woorde aan hom: “Ek het klaar gedala, want hy gaan terugkom vir ons.”

Die familie vertel lede van Pedro se familie het vertel die twee het ná 03:00 by hul huis aangekom waar Van Wyk bloed van sy skoene afgewas het.

Volgens Rinene wag hulle tans op die DNS-uitslae van monsters van die bloed wat op Pedro se klere gekry is voordat hy weer in die hof verskyn.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het bevestig Van Wyk se borgtogvoorwaardes is strenger gemaak.

Bepaal

“Beskuldigde nr. 1 in die Syster-moordsaak sal weer op 30 September in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

“Sodra die DNS-uitslae beskikbaar is, sal daar bepaal word wanneer Pedro weer sal verskyn.

“Pedro is nog ’n staatsgetuie,” laat Ntabazalila hoor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters