Verlede maand
‘Oud-ID-lede nie geteiken’
onpartydig: Die DA-leier, Mmusi Maimane, ontken dat sy party besig is om voormalige ID-lede te teiken.Foto’s: melinda stuurman  ~ 

DIE DA-leier, Mmusi Maimane, hou vol dié party is nie besig om voormalige ID-lede te teiken nie.

Die voormalige ID-lede kan aan die uitgaande burgemeester, Patricia de Lille, verbind word omdat sy die stigter en leier van dié party was, wat die DA ingesluk het.

Son het Maimane gister op ’n mediakonferensie in die Kaapse middestad gevra oor beamptes wat vroeër jare aan die ID behoort het wat in die laaste paar weke uit hul poste by munisipaliteite verwyder is.

Die Stellenbosch-munisipaliteit se speaker, Donovan Joubert, sowel as die burgemeesters van die munisipaliteite van Matzikama, Rhenda Stephen, en Knysna se Eleanore Bouw-Spies, is almal hul jobs kwyt.

Die George-munisipaliteit se mayor, Melvin Naik, was tot onlangs vir 60 dae geskors. Al vier is voormalige ID-lede.

Maimane hou egter vol die DA is nie besig om voormalige ID-lede wat aan De Lille verbind kan word, te teiken nie.

Hy meen die DA is meer besorg oor wat huidige DA-lede kan doen vir die mense as aan watter ander politieke party hulle voorheen behoort het.

Maimane sê: “Wanneer ons iemand verantwoordelik hou, is die eerste vraag wat ons vra nie ‘Waarvandaan kom jy?’ nie.

“Die eerste vraag wat ons vra, is: ‘Wat doen jy vir die mense?

‘Lewer jy ’n diens vir die mense?’ en ‘Doen jy jou werk?’

“Die Noordwes-leier (Joe McGulwa) is ’n voormalige ID-lid. Toe hy gekies is, het ek het nie gesê hy moet gekies word omdat hy ’n voormalige ID-lid is nie.”

Volgens hom is die enigste ding wat die DA raaksien of die betrokke persoon dié party se waardes op sy hart dra of nie.

“Daarom sal ek heftig met jou verskil dat daar is mense wat weens hul eie voormalige politiese affiliasie verantwoordelik gehou word,” antwoord Maimane verder.

“Ek sal bloot aanvoer almal by die DA teken dieselfde lidmaatskapsvorm en dit lui bo-aan ‘Democratic­ Alliance­.’

“Nie ‘voormalige van dié óf voornemende van daardie’ (politieke party) nie.”

Intussen spog Maimane oor die vordering van die munisipaliteite wat die DA in die plaaslike verkiesings in 2016 by die ANC oorgeneem het.

Volgens hom het die Drakenstein-munisipaliteit vanjaar 2 024 jobs deur sy Extended Public Works Programme (EPWP) en Community Work Programme (CWC) geskep.

Dié munisipaliteit se burgemeester, Conrad Poole, sê verder hy is trots daarop dat dié council R20 miljoen bygevoeg het by die R4 miljoen wat hy gekry het.

Dié geld sal gebruik word om krag by 1 620 shacks in 12 plakkerskampe te installeer, sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters