Verlede maand
Ouboet hoop op weersiens ná 31 jaar
Hoopvol: Petrus Stevens bly hoop sy vermiste broer kan ná meer as drie dekades nog opgespoor word.  ~ Verskaf

HY GLO vas sy broer leef nog.

Petrus Stevens (60) van Elsiesrivier soek al die afgelope 31 jaar na sy nou 51-jarige broer, Johannes.

’n Emosionele Petrus sê Johannes het destyds in Mei 1990 eendag aan hom gesê hy kan nie meer by die huis leeglê nie – hy gaan vir hom ’n job soek op ’n plaas by Louw se Bos.

Petrus sê daai aand toe dit laat word, het Johannes nie by die huis opgedaag nie.

“Ek het nog gedink dat hy die werk gekry het en dan sommer ingeslaap het,” onthou Petrus.

Hy vertel toe die naweek aanbreek, het hy steeds gehoop Johannes sal ten minste vir die naweek huis toe kom, maar hy het steeds nie opgedaag nie.

Petrus sê die tweede week toe Johannes niks van hom laat hoor nie, het hy baie bekommerd geraak.

“Ek het toe besluit om self na Louw se Bos te gaan om na hom te soek,” verduidelik Petrus.

Hy sê toe hy op die plaas aankom en navraag doen, het die mense gesê daar het nog nooit so ’n persoon kom werk soek nie.

“Ek het sommer onmiddellik geweet iets is nie pluis nie,” vertel Petrus.

Volgens Petrus het hulle Johannes ná nog ’n paar weke by die polisiestasie as vermis gaan aanmeld.

Spoor

Daar is ook ’n soekgeselskap in die omgewing van die plaas uitgestuur om na Johannes te gaan soek, maar hy kon nie opgespoor word nie.

’n Hartseer Petrus sê die maande het naderhand in jare verander en steeds is daar geen spoor van Johannes nie.

“Die polisie het ook al na my huis toe gekom en my meegedeel hulle het al op lyke afgekom en ek moes hulle kom uitken, maar dit was nie my broer nie,” vertel Petrus.

Volgens hom het hulle ook destyds by die lykhuise navraag gaan doen en ook baie tronke gebel om te luister of Johannes nie dalk daar is nie.

“Ek kry deesdae die gevoel dat Johannes tog iewers daar buite lewend is,” sê Petrus hoopvol.

Skakel

Volgens hom het Johannes geen rede gehad om net die pad te vat en nooit terug te kom nie.

Enige iemand wat dalk weet waar Johannes hom bevind, kan 079 431 2969 skakel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters