25 dae gelede
#KYK: Ou vries dood
toneel: Die man is op die Rocklands-strand, Three Anchor Bay, gekry. FOTO Verskaf  ~ 

DIE snerpende Kaapse weer het ’n derde lewe geëis.

’n Bergie het Sondag deur die nag op Rocklands-strand in Three Anchor Bay verkluim.

Die onbekende man is genader deur nog ’n hawe­lose wat erg bekommerd oor die ou was. Hy wou vir hom sy kombers gegee het.

Maar toe dié helper nader gaan, vind hy uit die ou lê stil met stokstywe oë.

Mogamat Cassiem Burns (58), wat al vir langer as 20 jaar op die strate van Seepunt woon, sê hy het die grootste skok van sy lewe gekry.

Burns sê hy het die ou jammer gekry en toe besluit om nader te gaan.

“Dit was so koud en daar het hy gelê met ’n kortmou-hempie.

“Ek slaap dan met vier komberse om net deur hierdie tipe winternagte te kom.

“Al wat deur my mind gegaan het, is hoe hy die koue kan hanteer met die min klere aan.”

Burns vervolg: “Ek het aan hom gevat. Hy was yskoud. Ek het hom die kombers gegee, maar hy het nie gereageer nie.

Volgens Burns het hy aan die ou gevra of hy okay is, maar het steeds geen antwoord gekry nie.

“Toe hardloop ek vir hulp na oorkant die pad.”

Burns sê dis die tweede persoon binne twee weke wat op die betrokke straat gesterf het.

Hy voeg by dat hy ook al twee R500-boetes gekry het omdat hy op die straat slaap.

“Hulle gee jou ’n pienk-oranje slippie. Dan moet jy dit by die polisiestasie gaan betaal.

“Ek wil gebruik maak van die Stad se shelters, maar jy moet daar ’n sekere tyd inklok en ek werk nog odd joppies daai tyd.

“So, ek moet maar op die straat bly slaap.

“Dié is ons realiteit.”

Dereck Peceur, die assistent-hoof van die Drakenstein-brandweerstasie, het verlede week in die bergies se skoene gestap deur op straat te slaap. Hy sê sulke omstandighede kan definitief iemand se lewe eis.

Byt

“Die koue is iets waaraan jy nooit gewoond kan raak nie.

“Ek het gesond ingegaan en met sinus en verkoue uitgekom. Die koue weer byt jou letterlik.

“Ek was daar vir net een nag. Die volgende dag kon ek dit nog voel – dit gaan tot binne jou bene.”

Lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy sê geen misdaad word vermoed nie.

Daar is verlede week in Maitand ook ’n hawelose weens blootstelling aan die koue weer oor­lede.

 
haweloos: Mogamat Cassiem Burns sê sommige bergies het nêrens anders om heen te gaan nie. Foto’s: Jonathan lestrade
wil help: Mogamat Cassiem Burns wou een van sy vier komberse aan die slagoffer gee.
kry koud: Mogamat Cassiem Burns sê dié winter is vir talle haweloses die ergste ooit.
toneel: Die man is op die Rocklands-strand, Three Anchor Bay, gekry. FOTO Verskaf
Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters