27 dae gelede
Ou sterf by job wat sy hele lewe is
Toneel: ’n Vyfde man is betyds uit die tenk gekry. Hy sterk in die hospitaal aan.Foto: Astrid Februarie  ~ 

DINSDAG het John Joubert sy huis in Elsies­rivier ouder gewoonte vir werk verlaat – maar dit was die laaste keer dat sy familie hom lewend gesien het.

“Hy het nog gevra of hy die ligte moet aanlos. Daarna was hy weg,” vertel Fazlin Bosch, sy susterskind.

Joubert (41), oftewel Johnny Boy, en drie kollegas is Dinsdag by Atlantic­ Plastic Recycling in Beaconvale dood toe die fumes van ’n ondergrondse tenk hulle blykbaar oorval het.

Dié onderneming is in Parow. Volgens sy website het die deure al in Junie 1989 oopgemaak.

Bosch sê Johnny Boy het die afgelope drie jaar by die maatskappy gewerk.

“Hy het nooit sleg gepraat van sy werk nie en hy was ook nooit lui om werk toe te gaan nie. Hy was rêrig lief vir sy werk.”

Volgens haar was Johnny Boy sê lewe net werk toe en huis toe.

“Hy was nie ’n paartie-mens nie. Wanneer hy nie by die huis was nie, was hy by die werk.”

Laastes: Al wat John Joubert se familie gekry het, is sy laaste outfit. Foto: Jonathan Lestrade

Bosch sê ’n vriend van haar boeta het haar by die huis kom inlig van sy dood.

“Ek was so geskok. Ons het dadelik na sy werkplek gegaan.”

Die bestuur van die maatskappy kon geen vrae beantwoord nie.

“Al wat ons van hulle gekry het, was Johnny Boy se klere wat in sy locker was.”

Die familie van die slag­offers is ook nie op die perseel toegelaat nie.

“Na wat ons verneem, was Johnny Boy op teetyd. Hulle het toe glo ’n geroep om hulp gehoor en na die stem gehardloop.”

’n Werker was glo besig om ’n diep tenk skoon te maak toe die walms van ’n onbekende gas hom oorval.

Gered

Johnny Boy en twee ander werkers is inderhaas soontoe en het na bewering een ná die ander ingeval.

Die ander slagoffers is net bekend as Phetto, Sbabalo en Shaun. ’n Vyfde man, ene Dan, is wel uit die tenk gered en sterk tans in die hospitaal aan.

Herwin: Vier werkers van Atlantic Plastic Recycling het omgekom toe hulle vermoedelik deur gas oorval is.Foto: Peter Abrahams

Volgens van die werkers is een van die ander slag­offers ’n voorman en die supervisor se broer, maar dié bewering kon nie bevestig word nie.

Bosch, Johnny Boy se eksvrou, Geraldine Joubert, en ander familielede is gister terug na Atlantic Plastic Recycling toe om antwoorde te soek.

“Hulle kon ons egter niks sê nie. Volgens hulle is hulle nog met ’n ondersoek besig en hulle sal Maandag eers antwoorde hê.”

Die maatskappy het ook nie op Son se navrae gereageer nie, hoewel die kantoor bevestig het hy het dit gekry.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek-dossier is aangelê.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters