Verlede maand
Ou sê sorry
AO Cameron MorganFoto: Shantel Moses  ~ 

’N BOODSKAP geskryf in bloed, ’n selfmoordpoging in die selle en ’n geskel oor vaderskap.

DÍt is die drama wat enkele ure ná klein Jeremiah Ruiters (1) se dood gevolg het.

Die kind is op 12 Junie 2017 by die Factreton-kliniek dood verklaar. Sy ma, Abigail, se boyfriend, Ameerudien Peters, het met sy pap lyfie by die kliniek ingehardloop.

Peters is by die kliniek in hegtenis geneem omdat die kind ooglopende wonde gehad het. Daar het bloed by sy mond uitgekom.

Sy storie dat die kind in sy slaap snaaks begin asemhaal het, was ongeloofwaardig. Peters het bedags na hom en sy twee sussies gekyk terwyl hulle ma gewerk het.

AO Cameron Morgan, die eerste ondersoekbeampte in die saak, het gister in die Kaapse hooggeregshof getuig oor die noodlottige dag.

Hy sê Abigail is ook na die kliniek ontbied. Toe hy haar die sny- en bytmerke op Jeremiah se lyk wys, wou hy weet wat sy daarvan weet.

Geskreeu

“Sy het gesê die kind het homself gesny en gebyt.”

Maar die ma het dié stelling gister in die hof ontken.

bloed: Ameerudien Peters het kort ná Jeremiah Ruiters se dood probeer selfmoord pleeg. FOTO’S Verskaf

Volgens haar het Jeremiah se biologiese pa ook by die kliniek opgedaag. Sy sê sy het op hom gegil: “Wat maak jy hier? Wat soek jy nou hier? Jy’t gesê hy is nie jou kind nie!”

Morgan sê hy weet niks van dié gesprek of dat Jeremiah se pa by die kliniek was nie.

Peters se beweerde selfmoordpoging het ook in die hof uitgekom. Hy het ’n sny aan sy pols gemaak en met die bloed ’n boodskap op die vloer van die Kensington­polisiestasie se selle geskryf.

Die boodskap was glo ’n jammersê-nota aan Abigail – en ook een wat lees: “Dit was nie Abigail nie.”

Morgan sê hy is ingelig dat Peters dood in die sel lê.

“Ek het in die selle gegaan en foto’s geneem. Daar was baie bloed.”

Peters se lawyer, adv. Alan Koester, wou weet hoekom Morgan nie gekyk het of Peters nog lewe nie.

“Ek is nie opgelei daarvoor nie, het Morgan geantwoord. “Ons het die nooddienste gebel.”

Peters is op die perseel behandel. Hy het glo ’n klein snytjie aan sy pols gehad. Die saak gaan vandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters