2 maande gelede
Ou ’n terror, selfs in mang
betoog: Zorah Motasi (tweede van links) en ander vroue maak gister hul stem dik teen ’n vermeende verkragter en inbreker.Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

DIE gewetenlose lafaard wat ’n jong vrou langs haar vierjarige dogtertjie op die bed verkrag het, sit in die tjoekie.

Maar dit beteken nie die gesin voel nou safe nie.

Hy het die 24-jarige vrou en haar mense langer as ’n uur hostage gehou en geterroriseer.

Vroueregte-organisasies sien rooi hieroor. Lede het gister voor die Strand-landdroshof teen borgtog vir die booswig betoog.

Die 32-jarige beskuldigde, Quinton Elias, staan tereg vir die onwettige besit van ’n vuurwapen, huisbraak, verkragting en diefstal.

Die vrou se dogtertjie moes langs haar ma op die bed lê en grootoog toekyk hoe sy verkrag word.

Elias het ’n mes teen die kind se keel gehou.

Die vrou moes na bewering ook die pervert se penis suig.

Hy het die vrou se ma, ouma, broer, suster en nog ’n kleinkind in ’n kamer langsaan toegesluit terwyl hy sy walglike dade gepleeg het.

Uitgestres: Ingrid Adams is bekommerd oor die toename in geweld teen vroue en kinders.
betoog: Zorah Motasi (tweede van links) en ander vroue maak gister hul stem dik teen ’n vermeende verkragter en inbreker.Foto’s: JONATHAN LESTRADE

Hy het heeltyd gedreig hy gaan haar kind vermoor as hulle alarm maak.

Volgens Zorah Motasi van die beweging Vroue in Aksie het die vrou se oupa die oggend ander huiskinders crèche toe geneem. Hy het nie die burglar-hek en voordeur gesluit nie.

Dit het die boef ’n gap gegee om net in te stap en sy ding te doen.

Volgens Motasi het die ou hulle met ’n gun gedreig. Hulle het gedog hy gaan hulle net beroof.

Maar die jong ma was halfkaal omdat sy besig was om reg te maak vir werk.

Haar broer was in die shower en die pervert het hom daar gaan uitruk.

Hy het hulle toe van hulle selfone, geld en juweliersware beroof.

Die voorval het op 13 Augustus by hulle huis in Sercor Park plaasgevind.

Die skollie het ook die gun teen die ouma se bors gedruk.

Sy het hulpeloos in die bed gelê omdat sy tuis herstel van ’n beroerte.

Elias is ’n paar dae ná die voorval in die Lwandle-plakkerskamp gearresteer.

Hy is uitgeken aan ’n tatoeëermerk op sy gesig.

Hy het ook sy victims se gesteelde goedere in sy besit gehad.

Al is hy in die mang, leef die familie nou in vrees vir hulle lewe, want Elias het hulle met nóg geweld gedreig wanneer hy die dag uitkom.

Volgens Motasi loop die stories rond dat Elias­ verskeie ander vroue – een van hulle sy niggie – ook verkrag het.

Borgtog

Volgens Ingrid Adonis, ook van Vroue in Aksie, het hy die hele familie emosioneel verkrag.

Adonis sê: “Ons het te­same met die polisiërings­forum ’n petisie opgestel en ook borgtog teengestaan.

“Geweld teen vroue en kinders is ’n groot probleem in ons gemeenskappe.

“Die afgelope twee jaar het dit drasties toegeneem en dwelmmisbruik speel ’n groot rol.”

Elias moes Maandag in die hof verskyn het, maar hy kon nie omdat hy in die Polls­moor-gevangenis aangerand is.

Die saak is gister uitgestel tot 28 November.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters