3 maande gelede
Ou kry lift by flinke joggies
bekyk: ’n Man is hier besig om aan sy kar te werk omdat dit nie wou start nie.  ~ 

PETROLJOGGIES van ’n Engen-garage in Kaapstad is nou heroes nadat hulle ’n man wat onder sy kar beland het, se lewe gered het.

’n Video oor die voorval het gister soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

Dit blyk dat die video van die kringtelevisie van die Engen Plattekloof Con­venience­ Centre geneem is.

In die minuut lange video kan ’n mens sien ’n man werk in die bonnet van ’n rooi Toyota Conquest Tazz.

Die kar beweeg dan vorentoe en hy beland onder die kar.

Die kar loop ’n entjie verder.

’n Vroue-passasier leun oor om die kar te stop, maar sonder enige sukses.

hulp kom: Die man beland onder sy kar. Foto’s: CCTV FOOTAGE

Die kar kom eers tot stilstand as ’n petroljoggie inspring en vermoedelik die handrem optrek.

Selfs dan spin ’n voorwiel steeds.

’n Groep mans, onder wie die petroljoggies, haas hulle om die kar op te lig, waarna die pas­sasier hom onder die voertuig uittrek.

Na verneem word, wou die voertuig nie start nie.

Die man het toe glo die voertuig in eerste rat gelaat en in die bonnet gaan krap om die kar te laat start.

Dit is glo toe dat die kar aan die beweeg gekom het.

Saamstaan: Mense lig ’n Toyota Tazz om ’n man onder die kar uit te haal.

Gavin Smith, ’n woordvoerder van Engen, sê die voorval het hom op 9 Mei 2019 om 17:30 afgespeel.

Hy sê die man is dadelik te hulp gesnel. “Engen se personeel was gou op hulle voete en het die man onder die kar uit gehelp.”

Die man is op die toneel deur paramedici behandel voordat hy hospitaal toe geneem is. Son verneem hy is steeds in die hospitaal.

Dit is steeds onduidelik of die kar se versneller vasgehaak het en of die ratkas die skuld moet kry. Dit is egter duidelik dat die passasier nie in beheer van die kar se versneller was nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters