12 dae gelede
Ou kry 34 j. ná mall-skietery
MOORD: Marco Johannes is tot 34 jaar gevonnis vir moord en poging tot moord.  ~ Foto ter illustrasie

’N MAN het hierdie week 34 jaar tronkstraf gekry vir onder meer moord en poging tot moord ná ’n skietery op die vermeende onderwêreld-figuur Je­rome “Donkie” Booysen.

Marco Johannes het skuld erken vir die moord op Simon Yon, poging tot moord op Booysen en Fatima van der Westhuizen, en die onwettige besit van ’n vuur­wapen en ammunisie.

Johannes is in die Blue Downs-streekhof tot 18 jaar gevonnis vir die moord op Yon, 3 jaar vir poging tot moord op Booysen, 3 jaar vir die poging tot moord op Van der Westhuizen, 3 jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en 7 jaar vir die onwettige besit van ammunisie.

Oproep

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, sê die hof het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien word.

“Johannes het aan die hof gesê hy en Yon was op 1 Augustus 2018 op pad na Kuilsrivier se Soneike Mall toe Yon ’n oproep ontvang waarin hy opdrag gekry het om iemand te vermoor wat in ’n restaurant in die winkelsentrum was,” sê Ntabazalila.

Die woordvoerder sê voorts Johannes het aan die hof gesê dat Yon ’n gelaaide vuurwapen aan hom gegee het.

Die twee het die restaurant binnegegaan en ’n paar tafels weg van die “teiken”, Booysen, gaan sit.

“Hulle het koeldrank bestel en kort nadat hulle klaar was, het hulle opgestaan en begin skiet op Booysen en ’n vrou wat langs hom sit.

“Booysen het teruggeskiet.”

Ntabazalila sê verder dat Johannes aan die hof gesê het dat Yon sonder waarskuwing voor hom ingeskuif het.

Johannes het Yon aan die agterkant van sy kop geskiet en hy het neergeval.

“Johannes het by die restaurant uitgehardloop na sy voertuig toe.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters