23 dae gelede
Ou is vas oor moord op eks
ma se smart: Melissa Fischer sê die eks-berk het op die toneel ontken dat hy haar dogter doodgeskiet het.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

OM ’N kind op Nuwejaarsdag aan die dood af te staan is vir enige ouer ’n nagmerrie.

Wat dit soveel tragieser maak, is as jou lieflingdogter boonop na bewering deur haar gangster-eks afgemaai is.

’n Vermeende Fakka-gangster het na bewering sy eks koelbloedig doodgeskiet oor sy hom nie meer wou hê nie.

Ashanti Fischer (16), ’n gr. 11-leerder van die Lavender Hill Hoërskool, is op Nuwejaarsdag in Village Heights doodgeskiet.

Laggie

Sy is in die kop en nek geskiet by haar eks-berk se huis en is op die toneel dood.

Haar hartseer ma, Melissa Fischer, kan nog nie glo haar dogter is so wreed van haar weggeneem nie.

Sy sê: “Dit voel asof ek in ’n diep slaap is en ek nog moet wakker skrik. Die huis is leeg sonder my kind.

“Ek mis haar laggie en haar stem is vir ewig stil.

“Ek het nog kort ná middernag op Nuwejaar haar stem gehoor toe sy my vir die Nuwejaar gewish het.

“Ek was by die werk en het nagskof gewerk. Ons het besluit om die ou dinge te laat vaar en om op ’n skoon blad te begin.

“Die dag voor haar dood het ons nog as ’n familie saam uitgegaan en ’n lekker dag gehad.

“Ons het gelag en pret gehad, soos ’n ma en dogter. Sy was lief vir jokes­ en het baie gepraat.”

Volgens Fischer is daar verlede jaar voor die Covid-19-epidemie borskanker by haar dogter gediagnoseer en sy sou in Junie vanjaar met haar behandeling begin het.

Fischer het ander mammies wie se dogters met gangsters uitgaan, gewaarsku teen die gevare daarvan.

Sy meen te veel onskuldige vroue en meisies word deur hul gangster-berks vermoor.

Die mamma beweer Ashanti se berk het haar baie geslaan en was vreeslik besitlik­ oor haar.

Fischer sê met trane in haar oë: “Ek het van die nagskof af gekom en wou net gaan slaap toe ek die tyding kry.

“Ek het gedog dis die boy­friend wat haar weer geslaan het.

“Toe ek op die toneel kom, het my dogter onder ’n kombers gelê.

“Ek het haar boyfriend gevra hoekom hy Ashanti doodgeskiet het.

Kombers

“Hy het binne my gesig gelieg en gesê hy het dit nie gedoen nie.

“Hoekom sal die jongens vir haar skiet en nie vir hom nie?

“Daai plek waar hy woon, is so toe, jy kan nie sommer van buite af inkom nie. Ek soek geregtigheid vir my kind se dood.

“Ek het nie die geleentheid gehad om koebaai vir haar te sê nie.”

Volgens Fischer was haar dogter nie meer in ’n verhouding met die verdagte nie. Hy is op die toneel gearresteer.

Kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig ’n 23-jarige man is vir die moord gearresteer.

Die verdagte sal vandag in die Muizenberg-landdroshof verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters