Verlede maand
Ou in hof vir cop-moorde
HET JOU! ’n Verdagte is vir die moorde op die cops vasgetrek.  ~ Foto Verskaf

DIE Valke, die polisie se eenheid vir misdaad­intelligensie, die honde-eenheid en Kraaifontein se polisie het in ’n japtrap ’n verdagte gearresteer wat heel moontlik by die moord van twee polisiebeamptes betrokke was.

Sers. Mnakwazo Mdoko (46) en konst. Mninawa Breakfast­ (28) is Sondag in die vroeë oggendure doodgeskiet.

Albei polisiebeamptes was by die Kraaifontein-polisiestasie gestasioneer.

Die voorval het in Phumlastraat, Bloekombos, gebeur.

Volgens ’n Valke-woordvoerder, kol. Katlego Mogale, is albei op die toneel doodgeskiet en daarna van hul vuurwapens beroof.

Mogale sê die nasionale hoof van die Valke, lt. genl. Godfrey Lebeya, het die arrestasie van die 32-jarige verdagte verwelkom.

Sy sê: “Die Valke se nasionale span vir gewelddadige en prioriteitsmisdade, lede van die Kraaifontein-polisie, die misdaadintelligensie-eenheid en die K9-eenheid het in ’n intelligensiegedrewe operasie die verdagte in Mandela Park, Khayelitsha, gearresteer.

“ ’n Groep verdagtes het na bewering die twee lede, sers. Mnakwazo Mdoko en konst. Mninawa Breakfast, oorval terwyl hulle in die vroeë oggendure van 28 Februarie in Phumlastraat, Bloekombos, gepatrolleer het.

“Breakfast en Mdoko is albei op die toneel dood verklaar en hul amptelike vuurwapens is gesteel.”

Volgens Mogale verskyn die verdagte vandag in die Blue Downs-landdroshof op twee aanklagte van moord.

Sy voeg by dat hulle steeds besig is met die ondersoek en dat daar dalk nog verdagtes gearresteer kan word.

Gister het gemeenskaps­lede van Kraaifontein en die Oostenberg-gemeenskapsontwikkelingsforum ’n gebedsessie voor die Kraaifontein-polisiestasie gehou.

Hulle is baie ontsteld oor die twee polisiebeamptes se skietdood en meen daar moet dringend iets aan die saak gedoen word.

Wilfred Hartnick, ’n inwoner van Kraaifontein, sê dis tyd om hande te vat.

Uitroei

Hy sê: “Kom ons as gemeenskap staan saam met die polisie om dié euwel uit ons gemeenskap te kry!

“Onthou, ons as gemeenskap gaan daaronder ly, want dit is die polisie wat ons moet beskerm.

“Dis tyd dat ons as gemeenskap ophou stilbly en hierdie euwel met wortel en tak uitroei.

“Ons leiers in hoë plekke maak wette, want hulle het 24/7 guards wat hulle beskerm.

“Wie beskerm die mens op grondvlak?”

Die gemeenskap beplan om vandag voor die Blue Downs-landdroshof ’n optog te hou.

Die polisieminister, Bheki Cele, sal intussen ook vandag besoek aflê by die families van die twee cops.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters