7 dae gelede
Ou hou vol hy sien Rob
steun: Rob Packham se dogters, Nicola en Kerry (regs), kyk hoe hulle pa in boeie uit die hof gelei word. Foto’s: PETER ABRAHAMS  ~ 

“NEE!

“Ek kon nie ’n fout gemaak het nie!”

So het Keenan Thomas gister gereageer toe adv. Craig Webster, Rob Packham se regsverteenwoordiger, dit aan hom stel dit kon nie Packham wees wat hy gesien het nie.

“My kliënt ontken hy is die persoon wat jy gesien het en sê dit was nie hy nie. Hy was op 22 Februarie by sy suster se huis vir aandete tot 21:00,” sê Webster.

Thomas het gister getuig in die moordverhoor van Packham, wat teregstaan vir die moord op sy vrou, Gill (57).

Haar lyk is in die kattebak van haar uitgebrande kar langs die Dieprivier-treinstasie gevind. Dit was ’n dag nadat sy en haar hubby ’n huweliksberadingsessie bygewoon het.

Thomas en sy vriend, Lance Govender, was van die eerste mense op die toneel waar die uitgebrande kar gevind is.

Thomas woon naby die Dieprivier-stasie.

“Ek en Lance was in die sitkamer waar ons video games gespeel het, toe ons buite ’n oproer hoor. Ek het die honde hoor blaf en iemand buite hoor hardloop,” sê hy.

Die twee is toe na buite om te sien wat aangaan.

“Ek het rook gesien en gedog dis die veld wat aan die brand is. Ek en Lance het toe nader gegaan en gesien dis ’n kar wat brand.

“Ek het toe teruggegaan in die huis in om ander skoene aan te trek en vir my ma gesê sy moet die brandweer laat weet dis ’n kar wat aan die brand is,” sê Thomas.

Weggery

Govender en Thomas het albei ’n kar aan die linkerkant van die brandende kar gesien.

Al twee het getuig dat die headlights en die binnelig van die kar aan was.

“Ek kon nie sien wie in die kar is nie, maar weet dit was ’n SUV, ’n wit Audi Q5.

“Keenan het na die kar begin stap en ‘hallo’ aan die persoon gesê, maar die persoon het net weggery.

“Ek sê nog vir Keenan dis weird dat die persoon net sal wegry,” getuig Govender.

Volgens Thomas het hy probeer om die persoon se aandag te kry deur sy hand te waai, maar hy het geen reaksie gekry nie.

KEENAN THOMAS

“Ek het onder ’n ligpaal gestaan op die pavement en die driver, wie se venster af was, het in my rigting begin ry. Soos hy verby my gery het met sy binnelig aan, het hy na my gekyk en ek na hom.”

Hy sê die man het ’n swart en rooi peak cap opgehad, sy gesig was glad geskeer en hy’t ’n kwaai kyk op sy gesig gehad.

“Ons was net sowat ’n meter uit mekaar, maar ek kon sy gesig sien.”

Volgens Thomas was die man lig van kleur en het vir hom wit of Coloured gelyk.

“Hy was ’n bietjie kleiner gebou as wat ek is,” sê hy.

Op 13 April 2018, nadat hy ’n reeks foto’s deur die die polisie gewys is tydens ’n ID-parade, kon Thomas Rob Packham identifiseer as die man wat hy gesien het.

Uitgewys

Webster het aan Thomas gesê dis unfortunate dat die polisie nie vir hom enige foto’s van Coloured mans gewys het nie.

“Hulle het vir my ’n reeks foto’s gewys voordat ek Packham uitgewys het,” sê hy.

Die verhoor gaan Maandag voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters